Skoon water vloei al vir maande weg

Munisipaliteit gee nie aandag aan waterlekke nie.

SECUNDA – Skoon water het verlede week in verskeie strate op die dorp gevloei en ’n waterlek in Maroelastraat word al vir twee weke geïgnoreer.

Die inwoner het die munisipaliteit al verskeie kere geskakel om dit reg te maak, maar niemand het al uitgegaan om na die lek te kyk nie.

“Ek het die munisipaliteit al geskakel dan sit hulle my deur, maar dan hoor ek hoe tel hulle die telefoon op en sit dit weer neer,” het die inwoener gesê.

’n Inwoner van Tambotiestraat het al vir twee maande ’n waterlek buite haar erf en het ook al die munisipaliteit verskeie kere geskakel, maar tevergeefs.

“Hulle belowe elke keer hulle sal kom, maar hulle kom net nooit nie,” het sy gesê.

Die water in haar erf loop in die kragboks buite haar erf in en het al verskeie kere ’n kortsluiting veroorsaak.

“Hulle het onlangs die watermeter gelig en vandat hulle dit kom doen het, lek die water kort-kort, voorheen het ons nooit probleme gehad nie,” het die inwoner gesê.

Die Echo en Ridge Times het die hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, mnr. Henry Masango, om kommentaar genader, maar hy het die vrae oor wie vir die water gaan betaal en waarom die munisipaliteit so lank neem om uit te gaan of glad nie uitgaan nie, geïgnoreer en net gesê: “Die water- en rioolafdeling is van die probleem in kennis gestel en sal aandag daaraan gee.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version