Local newsNewsSchools

Jabu en die towertante

Jabu Ndamase-Phillips, ’n gr.12-leerder by HTS Ligbron, se storie is ’n ware feëverhaal met haar as Aspoestertjie wat prinses word en Renette Rautenbach as die towertante.

Jabu Ndamase-Phillips, ’n gr.12-leerder by HTS Ligbron, se storie is ’n ware feëverhaal met haar as Aspoestertjie wat prinses word en Renette Rautenbach as die towertante.

Dit is elke jong meisie se droom om by haar matriekafskeidgeleentheid soos ’n feëprinses te lyk. Min het Jabu geweet dié wens sou waar word en dat haar paaie met ’n talentvolle ontwerper s’n sou kruis.

Alles het begin met Renette Rautenbach, ’n oud-Liggie (1999) en bekwame juwelier en ontwerper wat vir die jaarlikse Vaaldriehoek-ontwerperskompetisie ingeskryf het.

Nog voordat sy vir die kompetisie ingeskryf het, het Renette besluit dat sy haar rok aan ’n gr.12-leerder sou skenk.

Min het die oud-Liggie geweet dat haar ontwerp deur ’n leerder van Ligbron gedra sou word.

Jabu se ma het vir die Phillips-gesin van Ermelo gewerk sedert Jabu agt jaar oud was. Na haar ma se skielike dood in 2009 is sy sonder heenkome gelaat en is deur die Phillips-gesin ingeneem waar sy dadelik ingepas het in haar rol as ouer sus.

Bonita Philips sê om Jabu deel van hulle gesin te maak, was ’n maklike besluit en dat hulle bevoorreg is om daar vir haar te wees.

Gedurende dié tyd was Bonita swanger met haar tweeling en in net ’n paar maande het die huisgesin van vier tot sewe gegroei.

Volgens haar is Jabu ’n wonderlike kind wat niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Sy het van gr. 8 ’n beurs by Ligbron gehad en haar toewyding aan haar skoolwerk sowel as haar betrokkenheid by sport en kultuur getuig dat sy dit waardig was.

Ses weke voor die matriekafskeid het Jabu nog nie ’n rok gehad nie, selfs nie ’n idee oor wat sy wou hê nie.

Jabu sê sy het oor die saak gebid en geweet alles sou ten goede uitwerk.

So beland Bonita in die hospitaal en een gesprek lei na ’n ander.

Soos toeval dit wil hê, werk Renette se ma, Selma Grobler, by Mediclinic. Toe sy hoor van Jabu se storie, het sy Renette dadelik met die nuus geskakel dat sy die meisie vir haar rok gekry het.

Renette het van Pretoria gekom om self die rok aan Jabu te gee en sy het ook self die nodige verstellings vir haar aangebring.
Jabu se vriende het nie van die rok geweet nie, en groot was hul verbasing toe die “prinses” geklee in haar ontwerpersrok met haar “koets”, ’n slinternuwe Mercedes-Benz, by die “bal” opdaag.

Al wat die storie van die feëverhaal onderskei, is dat Jabu haar droomrok mag hou.

“Ek het rêrig nie woorde nie en weet nie hoe om genoeg dankie te sê nie. Dit was die awesomeste dag in my lewe en ek sal dit nooit vergeet nie. Ek is rêrig dankbaar, het net nie woorde nie.” Só probeer Jabu uitdrukking aan haar dankbaarheid gee.

Op die vraag of sy die rok weer sal dra, het sy vinnig geantwoord dat as die geleentheid hom voordoen, sy dit beslis weer sal doen.
Jabu hoop ook dat sy in die toekoms die geleentheid sal hê om vir ander te doen soos Renette vir haar gedoen het.

Jabu is ’n tipiese tienermeisie wat graag tyd saam met haar vriende deurbring.

Sy konsentreer nou op haar eindeksamen en het nie ’n idee wat sy ná skool gaan doen nie, hoewel sy weet dat sy graag met mense sal wil werk waar sy hoop om al die goeie dinge wat sy ontvang en beleef het aan ander oor te dra.

E2F (Small)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button