Local newsNews

Oompie sterf

“’n Mens kon altyd lag vir sy sêgoed en daarvoor sal ek my Dad onthou.”

SECUNDA – Mnr. Charles Smit (69), beter bekend as Oompie, is op 28 September dood.

Hy is op 28 Augustus in die hospitaal opgeneem nadat hy sleg gevoel het.

Dokters het gesê hy het ’n maagsweer en hy is geopereer, maar sy vrou, me. Annette Smit, het gesê hy het vir haar net al hoe meer begin agteruitgaan.

Personeel van die Netcare N17 Hospitaal op Springs het glo nie sy familie ingelig dat hy vir ’n operasie sou gaan nie en hulle is eers die volgende dag ingelig nadat hy die vorige nag om middernag teater toe is.

Volgens me. Smit en haar dogter, me. Marika Ras, het hospitaalpersoneel gesê hy doen goed, hoewel hulle kon sien hy lyk nie goed nie.

“Hulle kon ten minste oop kaarte met ons gespeel het, ek het nie eers kans gekry om hom ordentlik te groet nie,” het me. Ras gesê.

Me. Smit was by die hospitaal die dag toe mnr. Smit dood is.

Toe sy daar weg is, het hy nog geleef maar toe sy halfpad terug huis toe was, het die hospitaal geskakel en gesê sy moet dringend teruggaan omdat haar man besig was om te sterf.

Mnr. Smit was bekend op die dorp en was vir 10 jaar ’n sersant toe hy as ’n reservis vir die polisie gewerk het.

Sy as gaan in Oos-London waar hy grootgeword het, gestrooi word.

Me. Ras het vertel hoe mense geskrik het toe mnr. Smit se identiese tweelingbroer, mnr. Jack Smit, op 7 Oktober by sy begrafnis in die Evangelies Gereformeerde Kerk opgedaag het.

“Nie almal het geweet hy was een van ’n tweeling nie,” het me. Ras gesê.

Kapt. Johan Smit, kapelaan van die Secunda Polisie, het die diens waargeneem.

Me. Smit het haar oorlede man as ’n goeie en sagte mens beskryf.

Die egpaar was vir 44 jaar getroud en me. Smit het eers met mnr. Smit se broer Jack uitgegaan.

“Toe ek hom sien, het ek egter vir sy broer gesê hy kan maar gaan, ek sal eerder met Charles uitgaan,” het sy vertel.

“Ek mis hom baie.”

Me. Ras, wat ook ’n reservis in die polisie was, het hom as ’n unieke mens beskryf wat sy medemens bo homself gestel het.

“Al was my pa siek, het hy nie toegelaat dat dit hom onderkry nie en het steeds grappe met almal gemaak,” het me. Ras gesê.

“’n Mens kon altyd lag vir sy sêgoed en daarvoor sal ek my Dad onthou.

“Ons gaan hom oneindig baie mis, maar hy leef voort in ons harte en ons kan vashou aan al die mooi herinneringe wat ons as kinders het.”

Sy was in die proses om sy 70ste verjaarsdag te reël.

Mnr. Smit sou op 7 Desember verjaar het en op 6 Desember sou die egpaar hul 45ste huweliksherdenking gevier het.

Die familie gaan nou op sy verjaarsdag 70 ballonne die lug in stuur ter nagedagtenis aan hom.

Die familie het die personeel van die Netcare N17 Hospitaal, Mediclinic Highveld, ER24, kapt. Johan en Joy Smit en almal wat hulle ondersteun het, bedank.

Me. Smit het ook haar kinders en skoonkinders vir hul hulp en reëlings tydens mnr. Smit se dood, bedank.

Mnr. Smit laat sy vrou, vier kinders en agt kleinkinders na.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button