Word nat vir ’n goeie doel

Massa Ice Bucket Challenge beplan.

SECUNDA – Me. Tanya Engelbrecht het mense uitgedaag om op Saterdag, 25 Oktober aan ’n massa Ice Bucket-uitdaging wat sy reël, deel te neem.

Dit vind in die parkeergebied van die 5 Star Superspar plaas en begin om 10vm.

Sy en haar span wat dié uitdaging organiseer, het ondernemings en spanne aangemoedig om hul projek te ondersteun.

“Ons beplan ’n dag vol uitdagings en pret, maar ons het elkeen daar nodig.

“Kom ondersteun ons asseblief deur deel te neem of ’n donasie aan die J9-fonds te gee,” het me. Engelbrecht gesê.

Ondernemings wat ’n groot donasie wil maak, moet me. Engelbrecht vroegtydig in kennis stel sodat sy hulle kan uitsonder as die bedankings gedoen word.

Die J9-fonds is begin deur die oud-rugbyspeler, Joost van der Westhuizen, om mense wat aan die motorneuronsiekte (MNS) ly, te help.

Van der Westhuizen is in 2011 met dié siekte gediagnoseer.

Me. Engelbrecht en haar groep beplan onder andere ’n kanteltrok waarmee dié wat aan die uitdaging deelneem, natgegooi gaan word, meisies in bikinis en ’n verhoog vir plaaslike kunstenaars.

Inwoners kan hul eie sambrele en komberse saamneem.

Pryse kan gewen word en al die geld wat op dié dag ingesamel word, gaan aan die J9-fonds geskenk word.

Teksa Bloeddiens gaan ook daar wees en mense kan hulle gerus ondersteun deur bloed te skenk.

Ondernemings is genooi om hulself op dié dag te gaan bemark.

Vir meer inligting, skakel me. Engelbrecht by 071 313 2117.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version