Polisie loop deur onder AK47s

Wonderwerk dat geen koeëls polisie tref.

EVANDER – Die skote het op Vrydagaand, 12 September omstreeks 11.45nm by Winkelhaakmyn geklap nadat diewe op die polisie losgebrand het.

Na bewering het die polisie ’n oproep ontvang om te gaan help nadat sekuriteitswagte by die myn glo deur diewe oorrompel is.

Adj.-off. Oosie Oosthuizen en adj.-off. Marietha Wright het op die noodoproep reageer en het net by die myn aangekom toe die diewe op adj.-off. Oosthuizen se voertuig losgebrand het.

Adj.-off. Oosthuizen het gesê sy skat dat tussen 50 en ’n honderd mense met AK47s op hulle losgebrand het.

Sy het omgedraai om weg te jaag, maar in iets vasgery en haar voertuig beskadig.

Sy het buite die myngebied uitgeklim om die beskadigde wiel om te ruil, terwyl die diewe steeds bly skiet het en die koeëls heen en weer oor haar kop gevlieg het.

Die diewe het haar en adj.-off. Wright wat in ’n ander voertuig gery het, vasgekeer en hulle kon nêrens heen ry om hulp te ontbied nie.

Ander polisiebeamptes, asook lede van die Secunda Sektorpolisiëring en die motorfietseenheid, het opgedaag waarop die diewe gevlug het.

Niemand is beseer nie en niemand is teen druktyd in hegtenis geneem nie.

“Dit was net ’n wonderwerk dat nie een koeël my voertuig getref het terwyl ek die wiel omgeruil het nie,” het adj.-off. Oosthuizen gesê.

Die ander mense wat by dié skietvoorval betrokke was en gaan help het, is konst. Jakkie Taljaard, konst. Jacques Prinsloo, konst. Alf Claasen en mnre. Theuns Koekemoer en Swanja Wright van die verkeersafdeling.

Sers. Sibusiso Mbuli, skakelbeampte van Evander Polisiestasie, het die voorval bevestig en gesê die polisie het Maandag ’n vuurwapen en ammunisie op die toneel opgetel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version