Skenk bloed om ‘gevangene’ vry te laat

Verskeie mense moet sit tot hulle 10 eenhede bloed kry.

SECUNDA – Die Skenkerskomitee van Teksa Bloeddiens bied Saterdag, 13 September hul jaarlikse Geboei om te Bloeiprojek aan waartydens hulle verskeie mense “gevange” neem.

Dié mense se vriende en familie moet dan gaan bloed skenk vir hul vrylating.

Die skenkerskomitee het die gemeenskap genooi om die bloeddiens te ondersteun.

Die bloeddiens maak om 8vm oop en sal tot 2.30nm oop wees.

Hulle beoog om 110 eenhede bloed in te samel en elke “gevangene” moet 10 skenkers kry voordat hulle vrygelaat word.

Volgens me. Dot Prinsloo, skakelbeampte van Teksa Bloeddiens, is dit dikwels moeilik om die bloedvoorraad op die vereiste vlak te hou.

“Die behoefte aan bloed oorskry dikwels die skenkings omdat gereelde bloedskenkers die daad afstel soos wat hulle besiger raak met planne en aktiwiteite.

“Hospitaalpasiënte veg steeds teen kanker, herstel van motorongelukke en sterk aan na lewensreddende operasies.

“Iemand daar buite wag altyd op daardie bloedproduk om hul lewe te red.”

Om bloed te skenk, moet jy tussen die ouderdomme van 16 en 65 jaar oud wees, meer as 50kg weeg en ’n veilige en gesonde leefstyl lei.

Drink genoeg vloeistowwe en eet iets voordat jy gaan bloed skenk.

Vir meer inligting, besoek die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens se webtuiste by www.sanbs.org.za of hul Facebook-blad.

Vir meer inligting oor Teksa Bloeddiens of die Geboei om te Bloeiprojek, skakel 017 631 1652.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version