Hoëveld-boere ly groot verliese

Mense wil boere help met voer vir hul diere.

SECUNDA – Boere het groot verliese gely in die veldbrand wat glo Donderdag, 28 Augustus in die oop veld langs Sasol se Charlie 1-ingang by Nelson Mandelastraat begin het.

Die sterk wind wat Donderdag en Vrydag gewaai het, het die vuur aangehelp en plase in die hele omgewing wat Secunda, Trichardt, Charl Cilliers en Leandra insluit, het afgebrand.

Verskeie boere het vee verloor, maar die grootste verlies is weiding.

“Ons het die heeltyd gebid vir ons veiligheid en dat die vuur nie tot by ons huis moet kom nie,” het me. Melodie Botha wat op een van die plase woon, gesê.

Volgens haar was die vlamme so hoog soos die elektriese bedrading om hul plaashuis.

“Dit is net die Here se genade dat die vlamme nie tot by ons huis gekom het nie.”

Een van die gesin se werkers het die vlamme met die tuinslang probeer blus, maar me. Botha het gesê hy moet dit los en almal wat in die huis was, het in haar voertuig gevlug.

“Ek en my huishulp het die heeltyd gebid, want die rook was op ’n stadium so dig, dat ek nie geweet het waar ons was nie.”

Hulle het later na hul huis teruggekeer en gemerk dat hulle net een lammetjie in die brand verloor het.

Ander boere was egter nie so gelukkig nie.

Me. Jeanine Botha op ’n naburige plaas het meer as 80 bale voer verloor.

Sy en haar werknemers het hul skape tot in die kraal gejaag.

“Die vuur het tot naby ons huis gebrand en die hele huis was vol rook,” het sy gesê.

Sommige boere het miljoene rande se skade gely.

Volgens mnr. Gerrie du Preez, voorsitter van die brandbeskermingsvereniging, het hulle nog nie die presiese syfers van die gebied wat gebrand het nie, maar sowat 56 000 hektaar het afgebrand.

Die Ridge Times het lugfoto’s van die gebrande gebied geneem en dit was net swart landerye sover as wat die oog kon sien. Gaan na www.ridgetimes.co.za.

Mense het reeds boodskappe op sosiale netwerke uitgestuur om boere te help om voer vir hul diere aan te skaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version