Werk boei Colleen

Me. Colleen Botes se werk is vir haar só interessant dat sy nie eers verlof wil neem nie.

SECUNDA – Me. Colleen Botes se werk is vir haar só interessant dat sy nie eers verlof wil neem nie.

Sy werk as ’n groeperingspraktisyn vir die Council for Scientific and Industrial Research (voorheen die WNNR) in Pretoria.

Sy is in beheer van al die dokumente en werk ook met tekeninge.

Me. Botes werk hoofsaaklik met dokumente wat met produkte op vliegtuie te doen het.

Sy het haar werk as geweldig interessant beskryf.

“Ek is vir die vervaardigers se tekeninge verantwoordelik en werk merendeels met ingenieurs.

Me. Botes het ’n tweede werk en oor naweke is sy ’n Scooter Angel.

Dié werk behels dat me. Botes mense wat te dronk is om te bestuur, huis toe neem met hul eie motors.

Sy werk deur ’n agentskap wat haar skakel as sy ’n kliënt moet huis toe neem.

Me. Botes kry soms oor naweke min slaap omdat die besigste ure vir die Scooter Angels tussen 11nm en 3.30vm is.

Toe sy vir die werk by die CSIR aansoek gedoen het, moes sy eers ’n vraelys invul, vingerafdrukke laat neem en haar bankstate asook vriende en familie se besonderhede verskaf.

“Hulle is baie streng oor wie hulle aanstel en in watter posisies hulle jou aanstel,” het me. Botes gesê.

Sy en haar man het vir bykans 10 jaar op Secunda gebly voordat hulle na Gauteng verhuis het.

Sy het Vrydag eers ’n draai by die Echo/Ridge waar sy voorheen as ’n advertensieverteenwoordiger gewerk het, gemaak.

Haar man, mnr. Dawie Botes, is in 2006 in ’n motorfietsongeluk dood kort nadat die egpaar na Pretoria verhuis het.

“Ons het net daar begin aanpas toe Dawie dood is,” het me. Botes gesê.

Sy werk Saterdae vrywillig by die DBV omdat sy baie lief vir diere is.

In haar vrye tyd lees sy graag en het ’n wye belangstelling in argeografie.

Sy kook en bak graag en lees enige iets wat oor die Bybel gaan en luister graag na musiek.

Haar gunsteling stokperdjie is egter om by ’n koffiewinkel te sit en mense dop te hou.

Sy toer graag en hou van geskiedkundige plekke en klein dorpies.

Me. Botes het ’n seun wat in Kanada woon en ’n dogter wat op Secunda bly.

Sy het ook twee kleinkinders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version