Christo se dood laat groot leemte

Hy was nie net ’n kranige sportman nie, maar het ook ’n groot liefde vir kultuur gehad

Christo van der Linde se familie en vriende sal hom altyd onthou as ’n hardwerkende man met sterk morele waardes en iemand wat passiesvol was oor alles wat hy aangepak en voltooi het.
Dié eienaar van Pro Deo Cycles en entoeisiatiese fietsryer is Sondag, 13 Julie op die ouderdom van 45 jaar dood terwyl hy aan ’n fietsrit deelgeneem het.
Christo is op 16 Junie 1969 in Krugersdorp gebore, het sy skoolloopbaan in Carletonville begin en was hoofseun van Laerskool Oos-Driefontein.
Sy hoërskoolloopbaan het hy aan Fochville Hoërskool begin en het aan Hoërskool Monument gematrikuleer.
Hy was nie net ’n kranige sportman nie, maar het ook ’n groot liefde vir kultuur gehad en het in talle verhoogproduksies ’n rol vertolk. Hy het graag grappenderwys verwys na en lekker gelag oor sy rol in die destydse TV-reeks Swart Kat.
Christo het ná skool B.Com. (Regte) aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Dis ook waar hy sy trouvrou, Cisca, ontmoet het.
Die regte en wetsaspekte het hom sterk aangetrek en in 1989 het hy by die polisie aangesluit en homself as offisier bekwaam.
In die destydse goud- en diamante-tak, speurdiens en misdaadvoorkomings-eenheid waar hy werksaam was, is hy talle male vir sy bekwaamheid met toekennings vereer.
In 2001 het hy die polisiediens vaarwel toegeroep en die privaatsektor betree.
Hy het sy veelsydigheid bewys toe hy binne drie jaar as ’n direkteur van ’n gesiene maatskappy in die siviele bedryf in Bloemfontein aangewys is.
In 2007 het sy liefde vir fietsry geroep en he t hy hom daarop toegespits.
In 2009 is hy verkies tot ontwikkelingsvoorsitter vir Mpumalanga Fietsry. Sy liefde vir dié sport het net gegroei en kon hy sy droom tot die dag van sy dood uitleef.
Sy afsterwe laat ’n groot leemte in die harte van sy familie, vriende en in sportkringe.
Christo word oorleef deur sy vrou en twee seuns, Ruan en JC.
’n Begrafnisdiens vir Christo het verlede Donderdag plaasgevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version