Rassie sterf aan kanker

Familie en inwoners sal Rassie se grappies mis.

EVANDER – Mnr. Rassie Erasmus (72) is op 17 Mei aan breinkanker dood.

Hy was sedert 1963 ’n inwoner van Evander en sy familie het met groot hartseer afskeid van hom geneem.

Hy was vroeër jare by Winkelhaakmyn werksaam en daarna by M & S Projekte op Trichardt.

“Almal wat hom geken het, het altyd die blymoedigheid in hom raakgesien,” het sy vrou, me. Koba Erasmus, gesê.

“Waar hy iemand kon help, het hy dit met goedhartigheid gedoen.

“Hy was ’n ware steunpilaar en sy humorsin was uiteraard iets waarvoor baie mense hom sal onthou.

“Hy het altyd ’n grappie gehad om te deel, sy geloof was baie sterk en hy het absoluut geveg teen dié siekte.

“As jy hom gevra het hoe dit gaan, het hy gesê dit gaan baie goed al was hy baie siek.”

Die egpaar sou vanjaar 50 jaar getroud gewees het.

Mnr. Erasmus laat sy vrou, drie kinders, ’n skoondogter, ’n skoonseun en twee kleinseuns agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version