‘Hulle wou my doodskiet’

Boer oorleef plaasaanval.

BETHAL – ’n Plaaslike boer, mnr. Nicolaas Kamffer (50), het ‘n plaasaanval oorleef nadat agt skote op hom geskiet is. Net twee het hom getref.

Die aanval het op Maandag, 23 Junie net na 8nm gebeur. Die plaas, Naudésfontein, is sowat 6km buite Bethal op die Morgenzonpad geleë.

Mnr. Kamffer het Woensdag aan ons gesê dit is deur God se genade dat hy die aanval oorleef het.

Volgens hom het hy die betrokke dag laat gewerk en het na werk sy vriendin, me. Natasha Venter, opgelaai sodat sy haar selfoon by sy huis kon herlaai.

Met sy aankoms daar, het hy gemerk die plaashek is toe, wat snaaks was om dit nooit toegemaak word nie.

Hy het uit sy bakkie geklim om dit oop te maak, toe die eerste skoot van agter geklap het.

“Ek het vir Natasha geskree om weg te jaag, maar dit was te laat want een van die drie aanvallers was reeds by haar.

“Ek het net gehardloop vir skuiling en heeltyd na my honde geroep, maar ek het vergeet dat ek hulle toegemaak het,” het hy gesê.

Twee aanvallers het mnr. Kamffer heeltyd om sy ander bakkie gejaag en op hom geskiet.

Volgens hom was die aanvallers se gesigte met wit sakdoeke bedek.

Twee was met vuurwapens gewapen, terwyl die derde een ‘n houtpaal en ‘n graaf as wapens gehad het.

“Ek het die heeltyd vir hulle geskree wat hulle soek?”

Een van die koeëls het hom getref nadat ‘n aanvaller hom met die houtpaal oor sy rug geslaan het nadat sy makker gesukkel het om die 9mm vuurwapen te laai.

“Ek het heeltyd gedink dat dit my vuurwapen is waarmee hulle my wil skiet,” het mnr. Kamffer gesê.

Die aanvallers het in die mielielande ingevlug nadat hulle ammunisie opgeraak het.

Mnr. Kamffer het dadelik die polisie en bure geskakel.

Me. Venter het geen beserings opgedoen nie, maar mnr. Kamffer het twee ligte skietwonde opgedoen. Een koeël is deur sy regterbors en die ander een op sy skouer. Hy het ook ‘n merk op sy rug van die houtpaal waarmee hy geslaan is.

Hy is in die hospitaal opgeneem, maar is reeds ontslaan.

Hy het die polisie bedank, asook sy bure vir hulle vinnige reaksie.

Mnr. Kamffer het ook dankie gesê aan vriende en familie vir hul hulp en ondersteuning.

Die polisie het agt leë koeëldoppies op die toneel gevind, asook twee lewendige koeëls.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version