Wintersportdinee motiveer spelers

Vanjaar se gasspreker was die bekende rugbyafrigter, mnr. Jimmy Stonehouse, voormalige afrigter van die Erries se eerste span en tans afrigter van die Steval Pumas.

Die nou reeds tradisionele wintersportdinee van die Ligbron Alumni-Assosiasie (LAA) is verlede Vrydagaand in die skoolsaal gehou.
Die doel van die geleentheid wat jaarliks op die vooraand van die wedstryde tussen Ligbron Akademie vir Tegnologie en Hoërskool Ermelo plaasvind, is om erkenning te gee aan die skool se eerste rugby-, hokkie- en netbalspan en hul afrigters vir hul harde werk en om die seuns en dogters te motiveer en aan te spoor om hul beste op die sportveld te gee.
Vanjaar se gasspreker was die bekende rugbyafrigter, mnr. Jimmy Stonehouse, voormalige afrigter van die Erries se eerste span en tans afrigter van die Steval Pumas.
In sy treffende boodskap het mnr. Stonehouse gesê dit wat die seuns en dogters in spanverband op die sportveld vermag, beïnvloed die skool se prestasie op vele ander terreine.
“Dit is ook nie altyd die puntemakers wat die belangrikste is nie, maar dit gaan oor die spelers wat saamwerk om die span te laat presteer. In spansport gaan dit oor hoe jy speel om die ander lede van die span beter te laat lyk. Speel vir mekaar en nie vir jouself nie,” het hy gesê.
Tydens die geleentheid is erelidmaatskap van die LAA toegeken aan mnr. en me. Dawie en Minnie Swanepoel vir 35 jaar se verbintenis en ondersteuning aan die skool en aan mnr. Jan en me. Lucretia Botha vir hul insette en dryfkrag wat die LAA van krag tot krag laat gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version