Kijana en Eswee gekroon as Errie-ambassadeurs

Dié kompetisie is nie ’n skoonheids- of voorkomskompetisie nie, maar is bedoel om twee ambasadeurs vir die skool te kies.

Eswee Bothma en Kijana Pretorius is verlede Woendagaand gekroon as Mnr. en Mej. Errie 2014.
Dié kompetisie is nie ’n skoonheids- of voorkomskompetisie nie, maar is bedoel om twee ambasadeurs vir die skool te kies.
Pieter Koen het as seremoniemeester opgetree en die gehoor vermaak met liedjies van sy nuwe CD.
Hy het die beoordelaars, Annemarie von Wielligh, Doempie Meyer en Lourens de Beer, aan die gehoor voorgestel en die beoordelingsproses aan almal verduidelik.
Kandidate is vooraf gekeur op onder andere akademiese prestasie, deelname aan skoolaktiwiteite, spontaneïteit en foto’s.
Nadat onderhoude met elk gevoer is, het die beoordelaars op 11 seuns en 11 dogters vir die finale beoordeling besluit.
Die verrigtinge het begin met die finaliste wat hulself in hul skooldrag aan die gehoor voorgestel het.
Dit was van die staanspoor duidelik dat die gehoor hul gunstelinge onder die deelnemers het.
Ná die skooldragafdeling het die finaliste in denim-slenterdrag geparadeer en ná ’n kort pouse het die temadragafdeling begin.
Elke finalis moes ’n tema kies wat op die een of ander wyse met ’n eeu verband hou.
Oorspronklikheid was aan die orde van die dag en dit was duidelik dat die deelnemers ernstig nagedink het oor hul onderskeie uitrustings. Kijana het ’n eeu van mode gekies, terwyl Eswee se keuse lugvaart was.
Maar wat is ’n praalvertoning sonder aanddrag?
Die gehoor het behoorlik na hul asems gesnak toe die deelnemers in hul pronkvere uitgestap kom en die beoordelaars het ’n laaste geleentheid gehad voordat hul finaal op die wenners moes besluit.
Elani van Wyk is as eerste prinses en Hemani Bhika as tweede prinses gekroon met JG Serfontein as eerste prins en JT Erlank as tweede prins.
Rozaan da Silva en JG Serfontein is aangewys as Mnr. en Mej. Persoonlikheid met Hans Greyling en Dané Steenkamp wat die fotogeniese titels gewen het.
Karl-Heinz Dedekind het die verdienstelikheidsprys ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version