Local newsNews

Jongman leef sy droom

Familiewaardes is vir hom baie belangrik en hy verwys met trots na sy ouers

Wind, reën en sneeu is nie genoeg om Pieter Potgieter van sy help-my-trap af te hou nie.
Pieter, eintlik almal wat hom ken se “Pieta”, en sy fiets is ’n bekende gesig in Ermelo.
Pieter ly aan neurofibromatose, ’n siekte wat sy senuwee-eindpunte aantas, maar die dinamiese 25-jarige jongman weier dat dit sy lewe beheer.
Hy het sy skoolloopbaan by Laerskool Ermelo begin waarna hy tuisonderrig in sy hoërskooljare ontvang het.
Van jongs af het Pieter reeds in Ermeloërs se harte gekruip en baie inwoners sal nog die sewejarige seuntjie onthou wat enige iets moontlik van seep en piesangbrood wat hy self gemaak het tot rose, skoonmaakmiddels en selfs waslappies gesmous het.
Familiewaardes is vir hom baie belangrik en hy verwys met trots na sy ouers wat vir ’n Christelike opvoeding gesorg het en hom geleer het dat niks in die lewe verniet is nie en dat mens moet werk as jy iets wil hê.
Toe hy 16 geword het, het hy middae ná skool en naweke by ’n bakkery gewerk en daar Zulu leer praat.
Hy werk nou reeds vyf jaar by ’n bekende hardeware- en boumateriaalbedryf in Ermelo.
Pieter sê sy werknemer is baie goed vir hom en hy is baie trots op die kennis wat hy reeds van die bedryf het. Hy antwoord die vraag oor sy toekomsplanne eenvoudig met: “Ek sal vir altyd daar werk.”
Hy glo dat selfbejammering mens nêrens sal bring nie en weier om op ’n hopie te gaan sit.
Hy kuier graag saam met vriende, hou van kosmaak, gesels op sosiale media, reis, Bingo-aande en kamp saam met sy pa en, ja, hy wag nog vir die regte meisie om oor sy pad te kom.
Vra vir Pieter wat sy droom is en hy antwoord: “Ek leef my droom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button