Local newsNews

Charl se skêr is nou stil

Hy het homself geen lang vakansies gegun nie en het geglo dat dit sy plig is om brood op die tafel te hou.

’n Groot leemte is in die gemeenskap gelaat toe Ermelo se stil, maar geliefde en bekende manshaarkapper, Charl Boyder, verlede Woensdag op die ouderdom van 54 jaar oorlede is.
Charl, ’n groot man met ’n klein hartjie, het die afgelope 22 jaar in sy haarkappery in Joubertstraat die mans van die omgewing se hare gesny.
Hy het sy skoolloopbaan aan die Jim van Tonder-skool in Bethal voltooi en het reeds op 13-jarige ouderdom hare gesny.
Nadat hy sy haarkapperkwalifikasies in Olifantsfontein verwerf en vir vyf jaar lank vir die Weermag die manne se hare gesny het, het hy homself in Ermelo gevestig en die haarkappery by oom Martiens van Straten oorgeneem.
Vir 22 jaar was Charl van 07:00 tot 17:00 Maandag tot Vrydag en Saterdae van 07:00 tot 12:00 getrou op sy pos.
Slegs op Sondae en sekere vakansiedae het hy die haarkappery se deure gesluit gehou.
Hy het homself geen lang vakansies gegun nie en het geglo dat dit sy plig is om brood op die tafel te hou.
Hy het met Elize getrou en vyf kinders, Charl, Bianca, Koos, André en Thomas, is uit die huwelik gebore.
Hy het ook13 kleinkinders gehad.
Diabetes het die afgelope tyd veroorsaak dat die bene wat soveel ure langs die haarkapperstoel moes staan, moeg geraak het en sy seun Charl het die afgelope drie jaar saam met sy pa gewerk en ingestaan wanneer sy pa ’n rukkie moes sit.
Charl jr. gaan voort met die onderneming en die manne van Ermelo en omgewing sal steeds in ’n bekende omgewing hulle hare kan laat sny.
Charl was baie lief vir visvang en was altyd gereed om mede-vissermanne met raad en daad by te staan.
Hy het selfs op ’n tydstip hengelbenodighede in sy haarkappery verkoop. As die lewe die man van min woorde gedruk het of as hy net bietjie na die natuur wou ontvlug, het hy in sy motor geklim en maklik 100 of meer kilometers afgelê om ’n rustige dag langs die vis-waters deur te bring en weer sy gees te hernu.
’n Roudiens vir Charl sal Saterdag om 11:00 in die Lede in Christus Kerk in Nederlandpark plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button