Riool vloei in Vaalrivier in

Shokuma Primary School is reg agter die pompstasie en leerlinge wat híér kattekwaad wil aanjaag loop groot risiko’s.

SAKHILE – ‘n Pompstasie in Rooikoppen, Uitbreiding 4, is buite werking en riool vloei in bykans elke straat af en versamel in ‘n veld, waarvandaan dit direk in die Vaalrivier inloop.

‘n Opgaartenk binne die pompstasie is veronderstel om vol te loop en sodra ‘n sekere hoeveelheid riool die tenk opvul, moet die pomp aangaan en riool deur ondergrondse pype na die riool-aanleg pomp.

Om sake te vererger lyk dit nie of die pompstasie gereeld deur munisipale werkers besoek of onderhou word nie.

Die vensters is gebreek, die heining is geknip, daar is geen slot om toegang te verhoed nie, panele van kragbokse binne die pompstasie is afgehaal en sommige drade hang ongeïsoleerd by die bokse uit.

Shokuma Primary School is reg agter die pompstasie en leerlinge wat híér kattekwaad wil doen, loop groot risiko’s.

Daar is ‘n leer wat na die opgaartenk, wat bykans drie meter diep is, lei. Ongeag die moontlikheid om te val, kan iemand selfs verdrink indien hulle daarin beland.

Drie mangate in dié gebied loop oor, asook een reg voor die pompstasie.

Sakelui in dié gebied is dit eens dat riool voor hul ondernemings sake negatief beïnvloed.

Mnr. Sipho Mkwanazi, munisipale woordvoerder, het gesê dat die pompstasie nie meer funksioneer nie en dat ‘n ander pompstasie in die industriële gebied gebruik word.

Toe hy gevra is of dié pompstasie 100 persent funksioneel is, het hy gesê dat dit nie is nie.

Hy het gesê dat dit tans opgradeer word. Hy is ook gevra hoe riool dan na die riool-aanleg gestuur word, waarna hy gesê het dat die munisipaliteit nie verantwoordelik gehou moet word nie, maar die Departement van Menslike Nedersettings, wat die vorige kontrakteur aangestel het. Hulle, volgens hom het die verkeerde groottes pype geïnstalleer en was verantwoordelik vir die bou van HOP-huise en die riool-netwerk.

Op die vraag wanneer die probleem opgelos gaan word, het hy gesê dat die munisipaliteit tans verskeie ander verbintenisse het, maar dat die saak die nodige aandag geniet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version