Ligbron is weer die ‘super’ in Superreeks

 Ligbron Akademie vir Tegnologie is die superkrag van die 2014 Superreeks vir hoërskole. Dit is verlede Donderdag onteenseglik bewys toe die Liggies vir die tweede agtereenvolgende jaar ná afloop van die rugby-, hokkie- en netbaleindwedstryde by Hoërskool Brandwag, Benoni as die algehele Superreeks-kampioene gekroon is. Daarbenewens het Ligbron ook die prestasie-, die rugby- en die …

Trotse kapteins. Marisa Ferreira van Ligbron se eerste hokkiespan en Wikus Badenhorst van die eerste rugbyspan met die trofee as algehele wenners van die Superreeks. (Foto: Elzanie Bothma)

 Ligbron Akademie vir Tegnologie is die superkrag van die 2014 Superreeks vir hoërskole.

Dit is verlede Donderdag onteenseglik bewys toe die Liggies vir die tweede agtereenvolgende jaar ná afloop van die rugby-, hokkie- en netbaleindwedstryde by Hoërskool Brandwag, Benoni as die algehele Superreeks-kampioene gekroon is.

Daarbenewens het Ligbron ook die prestasie-, die rugby- en die hokkietrofee ingepalm.

In die rugbywedstryde het Ligbron weer bewys dat hulle oor ’n diepte van rugbyspelers beskik met nie minder nie as vyf spanne wat tot die eindstryd van die Superreeks deurgedring het.

Die John Wright Veneers eerste rugbyspan het die trofee as kampioene verower toe hy die tuisskool, Hoërskool Brandwag, in ’n naelbyt-stryd met 15-13 geklop het. Brandwag was met rustyd 10-9 voor, maar ’n vasberade Liggie-span het met rotsvaste verdediging hul doellyn beskerm. Carl Jacobsz, die Liggies se doelskopper, se visier was reg ingestel en sy akkurate skoppe pale toe het gesorg dat Liggies die wedstryd in hul guns beklink het.

In die ander eindstryde het die tweede rugbyspan gelykop met 15 punte elk teen Hoërskool Pionier van Vryheid gespeel en deel dus die trofee as mede-kampioene.

Die 0/15-span is ook as kampioene gekroon toe hulle Pretoria Tuine met 19 – 17 geklop het, terwyl die 0/14- en 0/16-span die naaswenners in hul onderskeie ouderdomsgroepe is.

Ligbron se spanne is die algehele wenners van die rugbykompetisie en die trotse houer van die algehele wennerstrofee.

Hokkie wen vier uit vyf

Die Liggie-dogtershokkiespanne het ook vir groot blydskap gesorg toe hulle as die algehele hokkiekampioene van die 2014 Superreeks gekroon is.

Al die spanne het na die eindstryde van hul onderskeie ouderdomsgroepe deurgedring en teen die spanne van Hoërskool Pionier van Vryheid gespeel om die wenners en naaswenners van die reeks te bepaal.

Ook hier het Ligbron gewys dat groot dinge van hul hokkie verwag kan word.

Die eerste span het hul wedstryd 3-0 gewen, maar die tweede span was ongelukkig om met 3 – 4 te verloor.

Die 0/16-, 0/15- en 0/14-span het die doele behoorlik ingeryg en onderskeidelik met 6-0, 4-0 en 6-0 geseëvier.

Ligbron het dus vier uit vyf wedstryde in die eindstryd gewen en die algehele hokkiebeker sal ook ’n spesiale plek in die Liggie-trofeekas kry.

Met die Mpumalanga-liga wat eersdaags begin, beloof Liggie-hokkie om ook hier hul stempel af te druk.

Dit is slegs die tweede jaar wat Ligbron in die liga vir groot skole deelneem en ná hul prestasie verlede jaar, sien die skool uit na ’n baie suksesvolle hokkieseisoen.

Netbal tweede in Superreeks

Ligbron se netbalspanne het ook besonder goed gevaar in die eindstryd van die Superreeks en twee wedstryde is eers in bykomende tyd beslis.

Die eerste span se aanval en verdediging was net te sterk vir Pionier en die Liggies het die wedstryd 31-16 gewen om derde in die reeks te eindig. Carinché Pretorius is as speler van die wedstryd aangewys.

Die 0/14-span het gelykop met 15 elk teen Hoërskool Bergsig gespeel en twee minute bykomende tyd is toegelaat.

Die Liggies het in die laaste sekondes van die verlengde wedstryd met 15 – 16 verloor en vierde geëindig. Melicia Abbott was die speler van die wedstryd.

Ligbron se 0/15-span het ook in die eindstryd teen Pretoria Tuine kragte gemeet om die wenner te bepaal.

Die telling was ná gewone tyd gelykop met 15 punte elk en ná twee minute bykomende tyd het die Liggies die wedstryd met 16-18 verloor. Annatjie Bibbey is as speler van die wedstryd aangewys.

Die span eindig dus tweede in die Superreeks.

Die 0/16-span het ook teen Tuine vir die derde en vierde plek uitgespeel en die wedstryd 10 – 13 verloor. Nomvuyo Nkosi is as speler van die wedstryd aangewys.

Die 0/17-span het Hoërskool Gerrit Maritz met 15 – 12 geklop en die vyfde plek in die reeks ingeneem. Larochelle Opperman was die speler van die wedstryd.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version