Editor's choiceLocal newsNews

Jayden bid vir meneer

"Die Here het my tot nou toe gehelp en al wat ek gedoen het, is bid.”

Laerskool JJ van der Merwe het verlede Woensdag ’n muntlegging gehou ten bate van Jayden Crouwkamp, ’n gr. 1-leerder by dié skool.

Jayden is in September 2010 gediagnoseer met akute limfoblastiese leukemie.

Die leerders is aangemoedig om van hul eie sakgeld te bring vir die muntlegging sodat hulle kon ervaar hoe dit voel om jou medemens te help.

Meer as R13 000 is ingesamel en sal aangewend word om Jayden se ouers te help met mediese koste.

Ná afloop van die muntlegging, het ’n joernalis van die Hoëvelder by die Crouwkamp-gesin gaan inloer.

Van die staanspoor af is dit duidelik dat dié gesin van vier baie gelowig is en dat hulle dankbaar is vir elke dag.

Elsie Crouwkamp, Jayden se ma, vertel van die struikelblokke wat hulle moes oorkom sedert sy diagnose.

Jayden moes ’n beenmurgoorplanting kry, maar daar was ongelukkig nie ’n geskikte skenker in Suid-Afrika nie.

Hulle kon dit nie bekostig om Amerika toe te gaan vir die oorplanting nie.

’n Jaar later is Jayden se sentrale senuweestelsel aangetas en twee jaar later, in 2013, het dokters hulle ingelig dat hy terminaal siek is.

Op ’n vraag hoe hulle die situasie hanteer, het me. Crouwkamp geantwoord:

“Elke dag gee God ons krag en ons geloof hou ons bo. Ons glo steeds dat God kan genees, maar ons aanvaar Sy wil.”

In Januarie was Jayden sterk genoeg om skool toe te gaan, maar dié vreugde was van korte duur en ná ’n terugslag in Februarie kon hy ongelukkig nog nie weer terugkeer nie,

Hy is egter vol moed dat hy weer terug sal gaan en dring daarop aan dat hy in juffrou Karin se klas wil wees.

Afgesien daarvan dat Jayden permanent op pynmedikasie is en dat party dae moeiliker is as ander, bly hy steeds ’n normale agtjarige seun en is hy versot op Play Station-speletjies en wil ook nog gaan kamp en hengel.

Op ’n vraag waarvoor hy wens, het Jayden gesê: “Ek hoop net mnr. Malan word gesond. Almal moet die Here vra om hom gesond te maak; die Here het my tot nou toe gehelp en al wat ek gedoen het, is bid.”

Mnr. Sakkie Malan na wie Jayden verwys, is die hoof van Laerskool JJ van der Merwe wat in Desember met kolonkanker gediagnoseer is.

Hy het reeds twee operasies ondergaan, sterk goed aan en sal binnekort sy pligte as hoof hervat.

Vandat Jayden se diagnose na terminaal verander is, ondergaan hy nie meer chemoterapie nie en moes hy vir die eerste keer ’n haarkapper besoek om sy hare te sny.

Eers was hy bietjie onseker oor hare sny omdat hy kort of geen hare met siekwees assosieer, maar nadat “tannie Sandra” van Golden Scissors haarsalon met hom klaar was, was hy heel ingenome met die aantreklike seun wat hy in die spieël gesien het.

Mense wat belangstel om die gesin by te staan, kan Elsie Crouwkamp by 076 539 8960 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button