Local newsNews

SAVF stel hulself bekend

’n Maatskaplike werker is daar om te help.

SECUNDA – Die maatskaplike werkers van die SAVF Hoëveldrif Secunda vier op 19 Maart nasionale Maatskaplike Werkersdag.

Die drie maatskaplike werkers by die SAVF het verduidelik wat ’n maatskaplike werker is en wat hul pligte behels.

Hulle het ’n stuk wat me. Cornelia Prinsloo geskryf het, aangehaal:

“Ek is die tannie wat ongenooid by jou huis instap om te kyk of jy goed versorg word omdat ek weet dat goeie sorg die reg van elke kind is.

“Ek is die tannie wat troos en luister as jy deur grootmense mishandel of misbruik is omdat ek weet dat begrip en aanvaarding dikwels al is wat die wonde genees.

“Ek is die tannie wat kom help as pappa te veel drink en jou dan bang maak omdat ek weet dat dat jy weerloos is en jouself nie kan beskerm nie.

“En mevrou: Ek is die een wat raad gee, vermaan en saam beplan omdat ek weet dat jou gesin die kosbaarste entiteit in jou lewe is want ek is die maatskaplike werker.

“Ek is die tannie wat speelgoed bring as jou kinderlyfie alleen in die hospitaal lê omdat ek weet dat jy ook soos die ander maatjies kuiermense verwag.

“Ek is die tannie wat jou hand vashou en saam met jou skool toe gaan as daar probleme is omdat ek weet hoe belangrik dit is om ’n grootmens aan jou kant te hê.

“Ek is die een wat pens en pootjies saam met jou op die bed sit en slaptjips eet wanneer jou eerste kêrel jou afgesê het omdat ek weet hoe graag jy iemand wil hê wat na jou luister.

“En meneer: Ek is die een wat jou 7-jarige prinsessie bring om jou na twee en ’n half jaar in die gevangenis te besoek omdat ek weet dat jy steeds haar ‘daddy’ is en dit is ook ek wat dan saam met julle van vreugde huil want ek is soos familie.

“Ek is die een wat sorg dat daar ’n maandelikse pakkie aan jou voorsien word al weet ek die inhoud hou skaars ’n dag omdat ek weet dat dit een dag minder is wat jy vir aalmoese moet soebat.

“Ek is die een wat jou pleegkind weekliks by die nasorg oplaai en haar na afloop van haar terapie weer daar terugbesorg omdat ek weet dat ’n werkende pleegma dikwels nie geakkommodeer word nie.

“Ek is die een wat luister na jou trots as jou kind as leier verkies word of na die seer as hy sy graad moet herhaal omdat ek weet dat gedeele vreugde dubbeld en gedeelde leed net die helfte so swaar is.

“En my baas: Ek is die een wat my skoene uitskop en tee uit ’n beker drink omdat ek weet dat menslikheid dikwels meer nodig is as professionaliteit want ek is ’n vriendin.

“Ek is die een wat snags wakker lê en dink aan die pragtige dogtertjie van vyf wat ek vandag verwyder het omdat ek nie kan verstaan hoe sy soveel seekry kan hê nie.

“Ek is die een wat kwaad word wanneer jy vir die soveelste keer nie opdaag vir die weeklikse besoektyd aan jou kind nie omdat dit ek is wat sien hoe teleurgesteld sy is.

“Ek is die een wat my frustrasie op sjokolade uithaal as jy vir die soveelste keer nie jou afspraak nakom nie omdat dit beteken dat ek nie my werk kan afhandel nie.

“En ek is die een wat vier keer soveel kliënte inneem as wat ek eintlik kan hanteer omdat ek weet dat die aanvraag die aanbod ver oorskry want ek is net ’n mens.

“Ek is die welsyntannie en ek is versot daarop.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button