Local newsNewsSchools

Uitblinker se droom verwesenlik

Soos enige kind drome het, wou sy verder gaan studeer en haar droom is verwesenlik.

STANDERTON – Sonder om regtig daaraan te dink, weet die meeste kinders hulle het ‘n ondersteuningsraamwerk wat daar is vir hulle. Maar dan is daar kinders in die gemeenskap wat nie altyd so gelukkig is nie.

Glory-Ann Lottering het verlede jaar aan die Hoërskool George Hofmeyr gematrikuleer en het bo haar omstandighede uitgestyg en bewys dat ‘n mens enige iets kan doen solank jy vasbeslote is.

Sy is as die topleerling van die skool aangewys en het haar senior sertifikaat met universiteitstoelating verwerf.

In die tyd wat sy leerling was van Georgies, het sy Mpumalanga-kleure in atletiek verwerf, waar sy oor ‘n tydperk van vier jaar, nege medaljes by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe gekry het.

Glory-Ann was ‘n kranige netbalspeler en het vir drie jaar Mpumalanga-kleure in dié sport verwerf.

‘n Langasem was sy ook en het vir twee jaar Mpumalanga-kleure oor haar kop getrek. By die Festo-toekennings, wat die eisteddfod van al die Noordelike Provinsies is, het sy verskeie goue toekennings ontvang.

Soos enige kind drome het, wou sy verder gaan studeer en haar droom is verwesenlik toe sy toelating by die Noordwes Universiteit (Pukke) gekry het. Sy het vir haar B-Ed graad oor vier jaar ingeskryf.

Universiteitsgeld is baie om te betaal, veral vir iemand wat nie weet wie gaan haar help om haar droom te verwesenlik nie. Die DA en Lions van Standerton het van dié jong dogter te hore gekom en hulp aangebied.

Die personeel van Hoërskool George Hofmeyr het ook geld bymekaar gesit om haar ‘n hupstoot in die lewe te gee.

Die skoolhoof, mnr. Pieter Bester, het saam met haar na die universiteit gegaan en sy het ‘n beurs en studiehulp gekry.

Dié skool spog vir die sesde keer in ‘n ry met ‘n 100 persent slaagsyfer.

Daar is nog twee van verlede jaar se matrikulante wat wag om te hoor van universiteitstoelating.

“Georgies is baie trots op die kinders wat so goed presteer het en spog al met vier wat reeds klaar studeer het,” het mnr. Bester gesê. Nog ‘n uitblinker wat in 2009 gematrikuleer het is Samaria Khanye, wat pas haar vier jaar diploma aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi het.

Sy het toelating tot dié instansie gekry deur goue toekennings wat sy by die eisteddfod verwerf het en is ‘n beurs toegeken.

“George Hofmeyr is vir sommige van die kinders die enigste vastigheid wat hulle ken, en ons wil vir hulle die beste hê,” het mnr. Bester gesê.

“Ons is hulle familie en gee om vir hulle en is trots as hulle so goed presteer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button