Totsiens Pappa Buys

Hy was ’n besondere mens wat baie mense se harte geraak het

STANDERTON – ‘n Geliefde onderwyser, ‘n bekende in die Standerton-gemeenskap wat selfs na verwys is as ‘n legende, is onlangs dood.

Na die tyding van  Pappa Buys (Faan Buys) se dood, was die eerste reaksie, nee, man daar moet iewers ‘n fout wees, dit kan mos nie wees nie, maar op die ouderdom van 83 jaar het die liggaam op 6 Januarie besluit hierdie wonderlike gees het genoeg gedoen.


Dit moet wees dat die engele gejuig en gejubel het toe hy sy opwagting daar gemaak het, natuurlik nadat hy met ‘n ondeunde laggie hulle duidelik laat verstaan het, hier gaan ons doen wat pret is.


Hy was ‘n sosiaal aktiewe mens en almal wat hom geken het, kon nie anders as om lief vir hom te wees nie.


So ook het hy nie teruggestaan vir vandag se tegnologie nie en was selfs op die gewilde sosiale netwerk Facebook.

‘n Inskrywing is gemaak, wat sy Facebook-vriende seker ook so in hulle stilligheid laat giggel het, “as ek jou nie dadelik antwoord nie, wees net rustig, ek antwoord julle op die ry af.”


Dit is duidelik dat hierdie man baie harte geraak het en een vrou het gesê, “ons meneer van liefde, omgee, wat kon aanhoor, daardie lekker stoute glimlag wat so in u oë kom lê het, u sin vir humor was altyd vars, weet dat baie van ons wat u liefhet en respekteer, u baie gaan mis.”


As jong onderwyser het mnr. Buys in 1966 by Hoërskool Standerton begin.

Derduisende leerlinge het met sy humorsin te doen gekry in die wiskundeklas en kinders wat nie kop of stert van al die syfers kon maak nie, het hy met ekstra sorg en teerheid met algebra en meetkunde vertroud gemaak.


Sy basiese riglyne het vir baie leerlinge hoop gegee en die uitslae het in die punte gewys.


Na 34 jaar van onderwys, het hy in 1990 afgetree en in 2014 weet almal nog steeds wie mnr. Buys is.


Soos sy geaardheid was, het hy baie vriende gehad, maar ‘n spesiale groepie het die afgelope 21 jaar elke Dinsdag by die Standerton Buiteklub vergader.


Daar was net vyf punte op die agenda:
1. Opening.
2. Verwelkoming.
3. Vasstelling van agenda.
4. Datum van volgende vergadering.
5. Wie betaal vir die volgende rondte.


Die algemene gevoel wat hierdie man uitgestraal het, was die liefde wat hy vir sy medemens gehad het.


“Sy lewe dien opnuut as inspirasie vir onderwysers om ‘n Faan Buys vir ander te wees,” het ‘n vrou kommentaar op sy Facebook-blad gelewer.


Sy drie seuns het met ‘n glinster in hulle oë staaltjies van hulle geliefde vader vertel.


‘n Hegte gesin wat weer deur hulle pa bymekaar gebring is, maar hierdie keer om hom finaal te groet.


‘n Hartseer vrou het buite aan een van die seuns gesê, “ons het die mooiste tye saam gehad, saam grootgeword, saam oud geword.”


Vir ander was hy ‘n skietlood, ‘n maatstaf, want so wiskundig as wat hy was, was hy ook ‘n voorbeeldige Christen.


‘n Relaas kan geskryf word hoeveel prestasies hy op sy kerfstok gehad het, maar helaas was mnr. Buys nie so tipe mens nie, hy was nederig met altwee sy voete op die grond.


Omrede dié sjarme, wou mense nie sy geselskap verlaat nie.


Gewoonlik aan die begin van ‘n onderwyser se loopbaan word daar, deur die leerlinge, ‘n bynaam toegeken.


Dit gebeur maar min dat die bynaam soveel gestand gedoen word, Pappa Buys, so lief het sy leerlinge hom gehad.

Mnr. Buys laat sy seuns, mnre. Herman, Isak en Faantjie Buys, sy skoondogters me. Magda en me. Maureen Buys, drie kleinkinders en sewe agterkleinkinders na.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version