Valskermsoldate deel herinneringe

Die trots van ’n valskermsoldaat wees het gereeld in die stories deurgeskemer.

Die manne van die Valskermbrigade was nog altyd trots op hul tradisie en die werk wat hulle destyds vir hul land verrig het.

Saterdag, 7 Desember het “bats” van heinde en verre bymekaar gekom om saam te kuier en vriendskapsbande te verstewig.

Daar was lekkerlag oomblikke en sommige onthou-stories is met ’n lag en ’n traan oorvertel.

Dit was duidelik dat die jare sedert die groep mekaar laas gesien het, weggeval het toe daar saam begin kuier is.

Die trots van ’n valskermsoldaat wees het gereeld in die stories deurgeskemer.

Die teenwoordigheid van die jongste valskermsoldaat, Riaan Beukes, wat in 1989 sy diensplig gedoen het en die oudste, Johan Naudé, wat in 1966 sy diensplig voltooi het, het ekstra kleur aan die dag verleen.

Die manne onthou die eenheid en samehorighied wat al die jare in die brigade geheers het en bygedra het tot baie suksesevolle operasies wat hulle uitgevoer het.

Nog ’n hoogtepunt van die dag was die teenwoordigheid van sewe veterane wat deel was van die net 400 “parabats” wat op 4 Mei 1978 aan die geslaagde Cassinga-lugstorm teen ’n oormag van 3000 Swapo-vegters deelgeneem het.

Daar was heelwat Ermelo-manne teenwoordig, maar sommige kon weens boerderyverpligtinge nie die dag bywoon nie.

Japie Celliers, ook ’n oudvalskermsoldaat, het ’n skaap geskenk en Hein Aucamp het ’n geurige pot gemaak wat baie waardering by die gaste uitgelok het.

Daar word ’n groot byeenkoms vir volgende jaar beplan op ’n datum wat hopelik nie met boederybedrywighede gaan inmeng nie.

Die valskermsoldate word ook herinner aan die watersprong in Bloemfontein van 13 tot 15 Maart volgende jaar.

Die manne wat nie kan of wil spring nie, word genooi om die fees en verskeie reünies wat beplan word, by te woon.

Vir meer inligting, skakel Dave Harris by 082 776 3110 of Kobus Human by 082 820 8676 of e-pos daveh@intekom.co.za of kobus.human@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version