Local newsNewsSchools

Arie tree uit, maar nie af

Arie Lombard, oudonderwyser van Ligbron Akademie vir Tegnologie en ’n bekende in onderwyskringe, het besluit om ná 37 jaar in die onderwys uit te tree. Hy was 27 jaar lank onderwyser by Ligbron en die afgelope 10 jaar in diens van die Mpumalanga Onderwysdepartement as kurrikulumimplementeerder en vakadviseur. “Beslis nie aftree nie. Daar is nog …

Arie Lombard, oudonderwyser van Ligbron Akademie vir Tegnologie en ’n bekende in onderwyskringe, het besluit om ná 37 jaar in die onderwys uit te tree.
Hy was 27 jaar lank onderwyser by Ligbron en die afgelope 10 jaar in diens van die Mpumalanga Onderwysdepartement as kurrikulumimplementeerder en vakadviseur.
“Beslis nie aftree nie. Daar is nog te veel dinge wat ek wil doen waarvoor ek tot nou toe nie tyd gehad het nie,” het hy onmiddellik laat weet.
Arie is in Ermelo gebore en getoë en het was ’n leerling van Laerskool JJ van der Merwe en Hoërskool Ermelo. Hy het op 2 Julie 1976 tot die onderwys toegetree by Ligbron (toe Hoërskool Ligbron en later Hoër Tegniese skool Ligbron) onderrig het.
“Ek het vantevore verskeie ander werke gehad voordat ek my passie gevind het. Die pos as onderwyser het my die geleentheid gegun om dit te kon uitleef.”
Hy het die vak Motorwerktuigkunde in 1979 begin onderrig en in 1980 het die vak Tegniese Tekene (nou Ingenieursgrafika) bygekom.
Mnr. Antonie Swanepoel, onderhoof van Ligbron, het Arie beskryf as ’n stil mens wat alles kon doen.
“Hy sal dit nie self sê nie, daarvoor is hy te beskeie, maar hy is later tot departementshoof van Tegniese Tekene bevorder en hy het ook atletiek, rugby, en krieket afgerig en was ook bevelvoerder van die kadette se drilpeloton. Hy was ook betrokke by die skool se musiekblyspele en was nou betrokke by die bou van die Ligbron-dam, die huidige pawiljoen en die gedenkmuur. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Daar is talle monumente van Arie se handewerk op die skoolterrein,” het mnr. Swanepoel gesê.
“’n Ander eienskap van Arie is sy ja is sy ja en sy nee is sy nee,” het hy bygevoeg.
Toe dié eienskap aan Arie oorgedra is, het hy gesê: “O, ja! Dit laat my nou nog soms in warm water beland, maar, ja, dis hoe ek is. Ek hou ook nie van die woord ‘miskien’ nie. Of ’n mens doen ’n ding of jy doen dit nie. Dit kom seker van die vak wat ek onderrig het. ’n Motor werk só – of hy werk nie,” het hy verduidelik.
Van die talle hoogtepunte in sy onderwysloopbaan kan Arie spog dat hy nooit ’n matriekdruipeling in sy vak gehad het nie.
“Ek was passievol oor die kinders en die onderwys. Ek glo ’n mens word geplaas in die beroep as onderwyser, maar dit is ’n uiters verantwoordelike posisie en moet nie misbruik word nie,” het hy gesê.
Hy is nie bewus van ’n bynaam wat die kinders hom gegee het nie. “Hulle het my maar net ‘mnr. Arie’ genoem.”
Arie se vrou, Elsie, het hom twee jaar gelede ontval, iets wat hy as ’n laagtepunt in sy lewe beskryf het.
“Maar die lewe gaan aan. Ek het nog my drie kinders en vier kleinkinders. Ek is ook van plan om binnekort met my ander liefde, my motorfiets, die hele land vol te toer. Daarna sal ons maar sien wat die lewe vir my oplewer. Ek sal dit vat soos dit kom.”
Op 61 gaan Arie beslis nie agteroor sit en oud word nie. Daarvoor het hy nog gans te veel “petrol” in sy eie en sy motorfiets se tenk.

Related Articles

Back to top button