Maryna slyp haar talent stilweg

Sy is werklik geseënd met ’n besonderse gawe om te teken.

’n Pragtige, lewensgetroue houtskoolskets van ’n olifant op ’n sosiale mediablad het die oog gevang en die Hoëvelder het die kunstenaar opgesoek om meer van die mens agter die skets te wete te kom.

Maryna Boshoff, ’n 16-jarige gr. 10-leerling van Ligbron Akademie vir Tegnologie, is ’n stil, effens skugter jong dame,

netjies aangetrek, die een hand rustig in die ander op haar skoot gevou.

Glad nie die uitbundige kunstenaarstipe nie.

Tydens die onderhoud is meer as net die mens geleer ken; ’n lewenswaarheid is tuisgebring.

Talentvolle mense word nie slegs op ’n verhoog of op ’n sportveld gesien met skares wat dawerende applous gee nie.

Uiters talentvolle mense is dikwels in ons midde, sonder rakke vol trofeë, of stringe en stringe goue-, silwer- en bronsmedaljes, maar hulle is stilweg besig om hul Godgegewe talente te beoefen, sonder fanfare of seremonie.

Maryna Boshoff is só ’n mens.

Sy is werklik geseënd met ’n besonderse gawe om te teken en haar talent is dusver grootliks on-ontdek. Die feit dat sy eers ses maande gelede begin het om kunslesse by haar skool te neem, maak haar talent soveel meer merkwaardig.

Haar liefde vir teken het reeds as voorskoolse kind begin en het gestalte gekry in haar voorliefde vir die natuur.

“Ek is baie lief vir die natuur en ek het van kleinsaf begin om diere, natuurtonele en ook stillewes te skets. Sommige was wel in die begin effens uit verhouding uit, en die bene was soms te kort of te vet, maar dit het stelselmatig verbeter en met die aangemoediging van my ouers en familielede het ek dit onder die knie gekry,” het sy vertel.

’n Album met voorbeelde van ’n paar van haar vorige werke getuig duidelik hiervan.

Haar inspirasie kry sy van televisieprogramme en tydskrifte, maar sy teken ook uit haar kop uit.

“ Ek skets gewoonlik met potlood en het redelik onlangs met houtskool begin werk. Ek begin nou ook om met waterverf te skilder. My droom is om kuns te studeer en ook om eendag my eie kunsgalery te besit waar ek my werke kan uitstal en waar ek kunslesse kan gee,” het sy gesê.

Met só ’n besondere talent sal haar droom nie lank net ’n droom bly nie.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version