Local newsNews

Dit gaan beter met nege-jarige dogtertjie wat aan sistiese fibrose ly

Dit gaan beter met die jong sistiese fibrose-lyertjie en sy het reeds 300g opgetel.

Lizette Neviling is nege jaar oud en weeg ’n skrale 17kg omdat sy aan sistiese fibrose (SF) ly.

Van die simptome sluit in vertraagde groei, swak gewigaanwas, moegheid en kroniese hoes.

SF is ’n lewensgevaarlike en oorerflike siekte.

Haar ma se grootste begeerte is dat Lizette gewig optel omdat dit met haar longkapasiteit sal help.

Sy het ook meer weerstand wanneer haar liggaamsmassa meer is.

Nadat ’n berig oor haar in die Ridge Times op 18 Augustus verskyn het, het mense vir haar kruideniersware afgelewer en geld in ’n rekening inbetaal.

Die kaas, vleis, jogurt en jellie wat geskenk is, het Lizette al gehelp om 300g op te tel.

Sy het weer onlangs vir twee weke binneaarse voeding wat deur ’n “port” wat onder haar vel ingeplant is, ontvang.

Iemand het vir haar ’n vlekvrye staaltafeltjie geskenk en dit ook by hul huis afgelewer waarop haar medikasie reeds uitgepak is.

“Dieselfde dag dat die koerant uitgekom het, het die mense al gebel en vir ons gesê dat hulle vir ons ’n tafeltjie het,” het haar ouma, me. Johanna Lombard, vertel.

“Daar het ook ’n driejarige dogtertjie vir haar kom bid.

“Sy het so mooi gebid en dit het baie vir ons beteken.

“Lizette het die lekkerste kaas gekry en sy het so lekker daaraan geëet.”

Waar sy permanent op suurstof was, is Lizette nou vir rukkies deur die dag daarvan af.

Haar pankreas werk glad nie en sy moet spesiale pille drink wat help om haar kos te verteer.

SF is een van 26 siektes wat nie deur mediese fondse gedek word nie.

Een uit 2 000 kinders word daarmee gebore en een uit 20 mense dra die defektiewe geen, hoewel hulle nie die siekte het nie.

Lizette se ma wil graag haar aanvullings met volroommelk meng omdat die volroom haar ook help om vinniger gewig op te tel.

“Alles wat ons tot dusver ontvang het, het baie gehelp en ons is baie dankbaar daarvoor.

“Baie dankie aan elke persoon wat hul harte vir ons oopgemaak en ons gehelp het.

“Enige iemand is welkom om te kom kyk, ons rook en drink nie.

“Ons is dankbaar vir dit wat ons kry en dit word vir Lizette gebruik,” het me. Lombard bygevoeg.

Lizette en haar ouers woon by haar ouma en oupa om geld te spaar.

Tussen hulle het hulle slegs een voertuig wat se remme onlangs onklaar geraak het.

Sonder dié voertuig in ’n werkende toestand kan Lizette nie hospitaal toe geneem word nie.

Hulle het ook geld vir diesel nodig vir wanneer hulle haar pille in Johannesburg moet gaan haal en Lizette moet ook vir haar maandelikse ondersoek in Johannesburg gaan.

As jy die gesin op enige manier kan help, kan jy me. Lombard skakel by 064 908 8552 of Lizette se oupa, Chris Lombard, by 064 907 5457.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button