MunicipalNews

Pamflette oor aborsies ontstel Bethallers

Die pamflette, wat selfs goedkoop aborsies adverteer, word veral naby skole teen munisipale eiendom geplak.

BETHAL – Bethallers is ontsteld oor die pamflette wat oral op die dorp teen mure, padtekens en kragbokse geplak word.

Dié pamflette adverteer onwettige aborsies en ander onsmaaklikhede en is teen elke oppervlak, selfs voor die polisiestasie, te sien.

Mense is nie net vies omdat die advertensies selfs teen privaatmure opgeplak word nie, maar ook dat hulle so naby aan skole gesien kan word.

“Die goed is nie net lelik nie, maar adverteer ook gevaarlike dienste, mens kan dit nie net so los nie,” het ’n Bethaller, wat al ’n paar van dié pamflette van sy mure afgehaal het, gesê.

“Advertering word deur die munisipaliteit beheer en gemonitor.

“Die plak van pamflette op padtekens en geboue word nie toegelaat nie,” het mnr. Bheki Kubheka, munisipale woordvoerder, gesê.

Volgens mnr. Kubheka is dit onwettig om advertensies sonder die toestemming van die munisipaliteit op munisipale eiendom te plaas.

“Die munisipale hulpbronne is beperk en word aan kritieke dienslewering gewy, maar die netheid van ons dorpe bly almal se verantwoordelikheid.”

Mnr. Gerhard Burger, hoof van M.D. Coovadia Skool op eMzinoni, het gesê dat die advertensies immoraliteit voorstaan.

“Dit bemoeilik die voorkoming van tienerswangerskap omdat dit ‘n maklike uitweg bied.

“Ons lewensoörientering-kurikulum maak voorsienning vir opvoeding in dié verband en advertensies van dié aard bemoeilik ons taak.”

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Related Articles

Back to top button