Local newsNews

Down-sindroomseuntjie van eMzinoni se gesondheid is afhanklik van ’n mangeloperasie

Sifiso Skosana (9) sukkel reeds vir langer as ’n jaar met oor-, neus- en keelprobleme. Sy mangels affekteer sy gesondheid en veroorsaak dat hy baie siek word.

Sifiso Skosana (9) is ’n Down-sindroomseuntjie wat al vir langer as ’n jaar met oor-, neus- en keelprobleme sukkel.

Hy is ’n leerling van Marietjie Skool op Secunda en hy en sy ma, me. Sophie Skosana, woon op eMzinoni buite Bethal.

Sifiso moet skooldae alleen met ’n bus vanaf eMzinoni na die skool op Secunda ry.

Hy sukkel al vir langer as ’n jaar met sy mangels wat ontsteek raak, wat veroorsaak dat hy baie siek word.

“Die spraakterapeut het reeds ’n motiveringsbrief geskryf dat sy mangels verwyder moet word,” het sy onderwyser, me. Nadia van der Merwe, gesê.

“Sifiso word baie siek en sukkel dan nie net met sy keel en met ’n neus wat loop nie, maar ook met sy bors.

“Dit sal baie beter met hom gaan as hy vir ’n mangeloperasie kan gaan.”

Hy is baie lief vir dans en is ’n regte klein akteur.

Me. Sophie en Sifiso Skosana. Sifiso se mangels moet dringend verwyder word.

Sifiso is altyd opgeruimd en glimlag graag.

Sy ma het hom na die staatshospitaal geneem sodat hulle hom kon ondersoek en ’n afspraak kon maak sodat sy mangels uitgehaal kan word.

Hulle word egter elke keer teruggestuur met ’n briefie wat net sê dat daar ’n oor-, neus- en keelprobleem is.

“Ek is al moedeloos en die mense mors my tyd.

“Elke keer dat ons hospitaal toe moet gaan, moet Sifiso uit die skool gehaal word en ek moet ’n dag by die werk afneem.

“Wanneer ek ’n dag af is, beteken dit ook dat ek nie betaling kry nie en ons kan dit nie bekostig nie,” het me. Skosana gesê.

Sifiso hou daarvan om buite te speel en leef in sy eie droomwêreld.

Hy is ook mal oor sy maatjies en musiek.

“Sifiso het ’n baie goeie mamma,” het me. Van der Merwe gesê.

“Al het hulle nie baie geld nie, sal sy elke keer wanneer Sifiso verjaar, koek skool toe bring.

“Sy versorg hom ook tot die beste van haar vermoë.”

Me. Skosana kan dit nie bekostig om hom na ’n privaathospitaal te neem nie.

As enige iemand hulle kan help sodat Sifiso se mangels uitgehaal kan word en hy deeglik ondersoek kan word, kan hulle Marietjie Skool skakel by 017 631 1471.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Standerton Advertiser & Highvelder

“Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button