Editor's choiceLocal newsNews

Secunda Down-sindroom dogter moet dringend operasie ondergaan

’n Kontantbedrag van R12 300 moet betaal word voordat Leechelle se mangels verwyder kan word en sy dreineringspypies in haar ore kan kry.

SECUNDA – ’n Vriendelike en opgeruimde Leechelle van Zyl (6) is ’n Down-sindroom.

Haar ouers het nie voor haar geboorte geweet dat sy Down-sindroom het nie.

Leechelle is nie bewus van haar gesondheidsprobleme nie en gesels met almal op haar eie manier.

Haar ma verstaan al haar taal en hulle kan goed met mekaar kommunikeer.

Sy lag aanmekaar terwyl sy haar groot, pers Barney-dinosouruspop oral ronddra.

“Ek was effens sku die dag toe sy gebore is omdat ek nie geweet het hoe om Down-sindroom te hanteer nie.

“Dit was makliker nadat ek daaroor nagelees en dit beter verstaan het en ek was nie meer so onseker en bang nie.

“Vandag sal ek haar vir niks in die wêreld verruil nie,” het me. Charlotte van Zyl, Leechelle se ma, gesê.

Leechelle is met vergrootte mangels gebore en haar mangels het sedertdien baie probleme veroorsaak.

Die gesin het eers op Ermelo gewoon en later na Secunda verhuis omdat daar nie ’n skool vir kinders met gestremdhede op Ermelo is nie.

Leechelle gaan na Marietjieskool, ’n skool vir kinders met gestremdhede.

Hulle het by dié skool opgemerk dat Leechelle met haar mangels en ore sukkel.

Sy moet ’n mangeloperasie ondergaan en ook dreineringsbuisies in haar ore kry.

Haar ouers het nie ’n mediese fonds nie omdat haar pa onlangs eers weer werk gekry het waar hy ’n beter salaris verdien.

’n Kontantbedrag van R12 300 moet betaal word voordat Leechelle geopereer kan word.

Haar ouers kan nie dié bedrag op een slag betaal nie en het besluit hulle gaan eers die geld spaar.

“Die probleem is egter dat haar mangels steeds vergroot en later haar lugpyp kan begin toedruk.

“Daar is klein vergroeisels in haar neus wat ook verwyder moet word omdat sy reeds sukkel om asem te haal.

“Ons kan nie langer wag om haar te laat opereer nie,” het me. Van Zyl vertel.

Leechelle is lief vir musiek en om te dans.

Haar sussie het vertel dat al slaap Leechelle, sy wakker skrik wanneer daar musiek speel en begin dans.

Sy is lief vir Barney die dinosourus en hou ook daarvan om te teken, blokkies te bou en pop te speel.

Indien daar enige iemand is wat die gesin kan help, kan hulle die Ridge Times skakel by 017 634 7228.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button