Local sportSport

Leandri Lamprecht mik hoog

Leandri Lamprecht het goud gewen in speisgooi by die Afrika Spele.

SECUNDA – Leandri Lamprecht, ’n spiesgooi-atleet van Hoërskool Secunda, het onlangs aan die Afrika Spele in Luanda, Angola deelgeneem en haar Springbokklere verwerf.

Hoewel sy net 17 jaar oud is, het sy aan die 0/20-afdeling vir vroue deelgeneem en nie net haar eie persoonlike beste gegooi nie, maar ook die ander deelnemers in die stof laat byt met ’n wenafstand van 48.93m.

Leandri het in gr. 6 begin spiesgooi en haar harde werk en deursettingsvermoë onder leiding van haar persoonlike afrigter, mnr. Frik Stander, het al goeie vrugte afgewerp.

Sy het ook kort voor die spele ’n nuwe spies gekry.

“Ek het gewoonlik met ’n 500g-spies gegooi, maar het kort voor ek Angola toe gegaan het, my nuwe 600g-spies gekry en toe gooi ek sommer my persoonlike beste.”

Leandri is vanjaar in gr. 12 en wil graag volgende jaar gaan studeer, maar bly steeds gefokus op haar sport.

“Ek sal graag wil aanhou met my sport en dalk selfs professioneel deelneem, maar vir nou oefen ek hard en sien uit na die 2017-seisoen wat voorlê.”

Oor haar harde oefenprogram het sy gelag en gesê: “Ja, ek oefen eintlik ses dae ’n week en my afrigter druk ons, maar dis duidelik dat dié manier van doen werk.

“Oom Frik is ’n ongelooflike afrigter.”

Leandri is dankbaar vir haar familie se ondersteuning en haar ouers en haar tannie was saam met haar in Angola om haar goue medalje te vier.

Sy glo dit is belangrik om balans in jou lewe te handhaaf en as sy nie besig is om te oefen of deel te neem nie, lees sy graag of kuier saam met vriende.

Leandri is nog jonk, maar haar ondersteuningsraamwerk is goed en haar vermoë om die druk van internasionale deelname te hanteer en haar deurlopende positiwiteit en harde werk is beslis ’n wenresep.

Related Articles

Back to top button