CrimeLocal newsNewsStreeknuus

Verdagte in die moord op GPF-lid van Cullinan bly agter tralies

“Die protes was vreedsaam en ons gemeenskap se stemme het opgegaan vir geregtigheid terwyl ons dit duidelik gemaak het dat ons borg vir die verdagte ten sterkste teenstaan.”

Na die skok rondom die dood van een van die Cullinan / Rayton-omgewing se mees waardige en getroue GPF-lede, Johann van der Linde, was daar dankbaarheid toe Cullinan SAPD aankondig dat ’n verdagte in hegtenis geneem is.

Volgens die Cullinan polisie is die man wat op die moord van Van der Linde aangekla word, in sy vroeë 50’s, kort na die aanval op van der Linde in hegtenis geneem.

Die beskuldigde het op 3 Oktober in die Cullinan Landroshof verskyn. Volgens Johannes Bekker, die Tshwane raadslid vir Wyk 100, het lede van die gemeenskap by die hof saamgetrek om hul hul teenkanting oor die moontlikheid van borg vir die beskuldigde uit te spreek.


Wyle Johann (Vyf) van der Linde.

“Die protes was vreedsaam en ons gemeenskap se stemme het opgegaan vir geregtigheid terwyl ons dit duidelik gemaak het dat ons borg vir die verdagte ten sterkste teenstaan,” het Bekker gesê.

Volgens Bekker het die hof duidelik beklemtoon dat die verdagte nie geloofwaardige bewyse van sy onskuld kon lewer nie.

“Die teenstrydighede in die voorgelegde verklaring maak dit ongeloofwaardig en in die afwesigheid van bewyse, maak dit die saak nog meer ingewikkeld,” het Bekker in die hof gesê.


Wyle Johann (Vyf) van der Linde. Foto: Facebook.

“Dit was ook duidelik dat die beskuldigde se onbevoegdheid om die hof van ’n geloofwaardige alibi te voorsien, die bekommernis oor die veiligheid van die publiek beklemtoon het.”

Bekker het verder genoem dat, ten spyte van die beskuldigde se beweringe van onskuld, die hof sy borgaansoek, hangende verdere ondersoek, afgekeur het.

Die beskuldigde bly in aanhouding en sal weer sal weer op 28 November in die hof verskyn. Van der Linde, meer bekend as Johann Vyf, het op 3 September in die vroeë oggendure op ’n noodroep van ’n moontlike inbraak gereageer.


LEES OOK: Evander Streekhof stuur twee wat saamsweer om moord te pleeg tronk toe


Hy was deur ’n man met ’n mes oorval en ernstig gewond. Van der Linde is in die hospitaal opgeneem waar hy ’n operasie ondergaan het. Hy het egter verskeie terugslae gehad en is op die oggend van 20 September oorlede.

Die bevelvoerder van die Cullinan polisie, Luitenant Kolonel Christiaan Gertzen, het intussen ook sy medelye teenoor die familie uitgespreek.

“Van der Linde was ’n toegewyde lid van die plaaslike GPF en het baie jare se ondervinding gehad. Hy het verder nou saam met die SAPD teen die bekamping van misdaad gewerk,” het Gertzen gesê.


’n Kennisgewing waarin die gemeenskap dit duidelik maak dat hulle die borgaansoek teenstaan.

Gertzen het verder die GPF-lede geloof wat tot die spoedige inhegtenis name van die verdagte gelei het.

Gertzen het verder gesê dat hy die genadelose en kriminele aktiwitiete wat die lewens van die gemeenskap in gevaar stel, ten sterkste veroordeel.

“Die polisie sal sigbaarheid verhoog ten einde die inwoners van Suid-Afrika teen misdadigers te beskerm,” het Gertzen afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button