Local newsNewsStreeknuus

Honde-wesies van Cullinan plaasaanval vind nuwe tuistes

“Met baie geduld, liefde en hope biltong het die Leah en Chloe se sterte weer begin swaai en het hulle weer begin rondhardloop.”

Chloe en Leah, twee geliefde hondekinders het op die voorstoep van die Wet Nose Animal Rescue Centre beland nadat hul ‘ouers’ die slagoffers van ’n plaasmoord- en aanval geword het.

In ’n gebeurtenis wat die hele omgewing geskud het, was Dirk Kritzinger op 21 Julie in ’n plas bloed met ernstige kopwonde in sy huis op ’n kleinhoewe in Cullinan aangetref.

Sy vrou Sarie was baie ernstig aangerand en was per ambulans na ’n hospitaal vervoer. Die Kritzinger-egpaar se twee honde, Leah en Chloe, het die wrede aanval aanskou, maar oorleef.

“Wanneer so ’n tragedie gebeur, is dit natuurlik vir mense om hul oor die gesin en familie te ontferm en soms word die agtergeblewe diere nie ag geneem nie.”


Chloe is ’n getraumatiseerd na die moord en aanval op Dirk en Sarie Kritzinger van Cullinan.

In die geval van Leah en Chloe het familielede egter, die oggend nadat die liggaam van Dirk en die erg beseerde Sarie gevind is, vir Wet Nose gekontak.

“Hulle het bang rondgehardloop en dit was moeilik om die twee te vang,” het ’n woordvoerder van Wet Nose laat hoor.

“Dit is sekerlik verstaanbaar, want die twee ‘kinders’ moes alles wat aan hul ‘ouers’ gedoen was tydens die moord, aanskou en het self ook elkeen ’n paar houe weg in die aanval.”

Wet Nose se beamptes kon uiteindelik daarin slaag om Chloe te vang, maar Leah was steeds soek – sy is eers drie dae later opgespoor.


LEES OOK: GALERY: Ruiters en perde pronk by landbouskou


Leah moes dadelik teater toe waar sy behandeling vir ’n diep sny aan haar skouer gekry het. Volgens Wet Nose was beide die hondekinders vreesbevange.

“Toe het die harde werk begin om hierdie twee beangste diere emosioneel te rehabiliteer.”

Volgens Wet Nose was die honde baie bang, wou nie hul hokke verlaat nie en wou ook byt as iemand hul nader.

Ses weke na die dood van Dirk het die deurbraak gekom en daar was weer ’n geringe mate van vertroue in die mensdom.

“Met baie geduld, liefde en hope biltong het Leah en Chloe se sterte weer begin swaai en het hulle weer begin rondhardloop.”

Volgens Wet Nose is Leah die een wat haar trauma in stilte dra, maar gee tog toe aan die omgee en liefde wat na haar toe kom.

“Sy laat toe dat liefde bietjie-vir-bietjie deur haar geknoude selfvertroue sypel.”

Chloe is glo die een wat regtig wys deur watter trauma sy gegaan het.

Haar herstel na die pad van vertroue in die mens is nog nie heeltemal daar nie, maar tog het sy begin om op liefde en ’n sagte stem te reageer.


Leah het danksy Wet Nose, ’n nuwe liefdevolle tuiste gevind.

So het dié twee slagoffers van die aanval op hul ‘mens ouers’ dan op ’n stadium gekom waar daar vir hulle liefdevolle huise vol begrip vir hul trauma en lyding gevind kon word.

Wet Nose het die verhaal van Chloe en Leah op hul Facebook blad gedeel waarin hulle vir aanneem-ouers gevra het.

Streeknuus kon op 17 September bevestig dat beide Chloe en Leah onlangs liefdevolle wonings gekry het en dat hulle gelukkig is en goed aanpas.




LEES OOK: WATCH: Pedestrian finds crying baby next to the road near eMbalenhle

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button