Local newsNews

Familie en vriende neem afskeid van vermoorde Standerton-vrou

God se liefde was die kernboodskap van die roudiens wat deur ds Ricus van der Hoven gelei is.

Godvresend, wys, liefdevol, regverdig, opreg, geduldig, positief, hardwerkend en sterk – so is Reneé Lea telkens tydens haar roudiens beskryf.

Reneé was op 23 Augustus in haar huis oorrompel en die volgende dag dood in haar motor se kattebak in Pretoria gevind.

Die Teatro by Replika Kerk op Standerton was Saterdag stampvol familielede, vriende, kollegas, Pick n Pay personeellede en mense uit die gemeenskap wie se lewens deur dié besonderse vrou aangeraak is.

Hulle was daar om saam met Graham Lea en sy dogters Chané Oosthuizen en Stacey Lea van sy vrou en hul ma afskeid te neem.

Ds Ricus van der Hoven se kernboodskap in dié donker tyd was om op te kyk, God se liefde te aanvaar en te weet dat jy nie alleen is nie.


Die gedenkbrief van Reneé Lea, die sakevrou van Standerton wie op 23 Augustus in haar huis oorrompel is en op 24 Augustus dood in haar motor se kattebak in Pretoria gevind is.

“Ons leef in ‘n gebroke wêreld. Ons is kwaad en hartseer, want Reneé het nie verdien wat met haar gebeur het nie,” was sy openingsrede. Hy het die roubeklaers egter verseker dat God ook deur dit geraak word.

Van der Hoven het 1 Korinthiërs 13:6 gelees: Die liefde treur oor die onreg wat plaasvind. Die laaste week se gebeure maak nie sin nie, maar die Bybel daag jou nie uit om te verstaan nie; jy moet net glo.

“Die liefde van God sal ons in staat stel om aan te gaan. Dit sal ons vertroos. Die hartseer en pyn is net tydlik, want Jesus het reeds die wêreld oorwin. Hy wil herstel en vertroosting bring.”

Van der Hoven se boodskap het uit 1 Korinthiërs 13 gekom wat handel oor die liefde.

“Ek weet die Here wil naby julle wees, Hy wil vir julle ‘n pa wees. Eendag sal ons ook die volle prentjie sien. Niks kon Reneé van die liefde van God skei nie. Sy leef vir altyd want sy het aan die liefde van God vasgehou.”


’n Foto van Reneé Lea is voor in die kerk geplaas tydens haar roudiens.

Van der Hoven het gesê God se liefde is realiteit en hang nie daarvan af of jy dit glo of nie, maar geloof sal jou nader aan God en vertroosting bring.

“Reneé het op ‘n slegte manier haar lewe verloor, maar sy ervaar vandag haar nuwe liggaam, sy sien vandag vir Jesus en hoor Sy stem. Eendag sal ons ook ten volle kan sien.”

Ná sy boodskap, het Van der Hoven huldeblyke op die gedenkbrief, asook ander briewe uitgelees van Reneé se naasbestaandes en werknemers van Pick n Pay. In die gedenkbrief het Graham sy vrou beskryf as ‘n ystervrou wat ‘n lopende voorbeeld was van ‘n Godvresende vrou wat haar lewe daarvolgens geleef het.

“Ek het geen woorde nie. Ek het my sielsgenoot verloor. Daar is ‘n gaping wat nooit weer gevul kan word nie. Niemand het my soos sy verstaan nie, Sy het altyd geweet wat om te doen. Sy was my rots,” het Graham geskryf.

Die Lea-egpaar se oudste dogter, Chané, het in haar boodskap in die gedenkbrief haar ma bedank vir die voorbeeld wat sy vir hulle gestel het.


LEES OOK: WATCH: Pedestrian finds crying baby next to the road near eMbalenhle


“Ons hoop om mamma nog baie trots te maak. Al is ons harte in skerwe, weet ons wat mamma van ons sou verwag en sal ons ewig strewe om dit te bereik. Ons belowe om na mekaar om te sien en daar te wees vir mekaar soos mamma vir ons gedoen het.”

In die opvolgbrief wat Van der Hoven later voorgelees het, het Chané haar ma as dinamies, fenominaal en ‘wonder woman’ beskryf.

“Sy was altyd ‘up for the challenge’.”

Stacey het geskryf dat Reneé haar regte liefde laat ervaar het.

“Mamma se kapasiteit vir elkeen van ons het nooit opgeraak nie, ons het geweet mamma is altyd daar.


Kasselman Sekuriteitsdienste het ook ’n erewag buite die kerk gestaan.

“Ons gaan aanhou mamma, ons gaan bymekaar staan met die liefde wat mamma ons geleer het. Ons is tot ewigheid dankbaar vir die tyd wat ons saam met mamma gehad het.

“Ek gaan mamma nog baie mis, maar ek gun mamma die vrede en volmaaktheid wat mamma nou ontvang het.”

Stacey het ook vanaf die verhoog ‘n verdere brief voorgelees.

“Dit is aaklig dat ma nie hier is nie. Dit was my grootste vrees dat ons ma sou verloor,” het sy gesê.

Reneé se broer, Corrie van der Westhuizen, het gesê die familie is verpletterd en stukkend weens dié onnodige verlies.

“Maar niemand kan wegvat wie en wat Reneé was nie. Ek sê dankie dat ons haar gehad het.

Van der Westhuizen het vertel hul ouers het hulle geleer die belangrikste ding om na te laat, jou voetspore is.

“Ek is trots om te sê Reneé het duidelike voetspore en fondamente agtergelaat. Vandag is ons ouers trots op haar. Ons bou voort op daardie duidelike voetspore en fondamente. Ek is vol vertroue dat haar dogters nog meer sal doen.”

Van der Westhuizen het ook op ‘n ligter noot vertel hoe sy suster van kleinsaf vuur en ywer gehad het.

Hy het met heimwee vertel Reneé was skaars in die skool toe sy ‘n onderwyser aangevat het. Iemand het glo ‘n hap uit ‘n personeellid se blok kaas geneem en almal moes in die klas agterbly. Na ‘n ruk het Reneé vir die onderwyser vertel dat hy sou sien sy en haar suster Hester kan nie die skuldiges wees nie want hulle tande is te skeef.

“Sy het met Hester aan die hand uitgestap.”

Reneé se werknemers het haar as die wyse vrou van die Bybel se Prediker 31:10 tot 31 beskryf.

“We lost a mother with so much love for everyone. She will be missed in every corner of our store. Never again are we going to hear her voice or see her smiling face. She gave new meaning to the name Pick n Pay Family store, because she really made her store a family.”

Leerders van plaaslike skole het ook verlede Maandag by die Pick ‘n Pay in die Junction-sentrum blomme neergesit.


Related Articles

Back to top button