CrimeLocal newsNewsStreeknuus

Nóg ’n moord in die Bronkhorstspruit-omgewing

Neumann se dood is die mees onlangse moord in vlaag van aanvalle en -moorde op bejaardes in die Bronkhorstspruitomgewing.

’n Boer van die Groenfontein-omgewing, Bronkhorstspruit, is in ’n plas boed gevind, sy keel afgesny en is vyf keer met ’n mes in die rug gesteek.

Burckhard Neumann (65), ook bekend as Bokkie, is op 25 Augustus omstreeks 18:15 op sy kleinhoewe gevind.

Adjudant offisier Johan van Dyk, woordvoerder van die Tshwane polisie het in ’n mediaverklaring gesê die polisie is eers op 25 Augustus van die aanval verwittig.

Dit blyk egter of Neumann reeds op 24 Augustus vermoor is, maar ’n nadoodse ondersoek sal dit moet bevestig.

’n Persoon, onbekend aan Streeknuus, het glo gaan ondersoek instel nadat hy nie vir Neumann op sy selfoon kon bereik nie.

Op die kleinhoewe aangekom, het dié man op die gru-toneel afgekom. Hy het die nooddienste en polisie ontbied. Mediese personeel het Neumann op die toneel dood verklaar.

Daar was ook items ter waarde van sowat R300 000, wat insluit ’n skootrekenaar, selfoon en ’n Toyota bakkie, gesteel. Die bakkie is later verlate op die Arbor-pad gevind.


Burckhard Neumann het om 06:00 op die dag van sy moord dié inskrywing op sy Facebook-blad geplaas.

Neumann se dood is die mees onlangse moord in vlaag van aanvalle en -moorde op bejaardes in die Bronkhorstspruitomgewing.

Toy Olivier (78) en sy vrou Ansie was ook die slagoffers van ’n aanval by hul huis op Cullinan op 30 Junie.

Tydens dié aanval was Toy ernstig met ’n panga en hamer aangerand terwyl sy vrou ongedeerd van die aanval afgekom het.

Toy, oud-koster van die AGS Kerk op Rayton, het volgens inligting verskeie operasies ondergaan om die skade aan sy gesig en skedel te herstel.

Hy was egter nooit uit die hospitaal ontslaan nie en het op 6 Augustus gesterf. In nog ’n voorval was Grietha Opperman (76) op 4 Julie omstreeks 20:15 in die badkamer van haar en haar man Hendrik se huis op ’n plaas in die Witpoort omgewing oorval.

’n Aanvaller het haar van agter met ’n hamer aangeval, op die grond neergegooi en herhaaldelik geskop en oor die rug geslaan.


LEES OOK: New faces complete parkrun in Standerton


Hendrik was in die kantoor van die melkstal, sowat 70m vanaf die huis toe Grietha aangeval is. Die Oppermans se Blumenweiler hond, Simson, het alarm gemaak waarna Hendrik hom na die huis gehaas het.

“Tussen vloere, mure en selfs plafonne vol bloed het ek my dierbare vrou Grietha gevind, bloed het van oraloor oor haar gestroom,” het Hendrik gesê.

Hendrik het die bure in kennis gestel waarna die ambulans en polisie opgedaag het. Grietha was in die hospitaal behandel en hoewel steeds getraumatiseerd, sterk sy tuis aan.

Een verdagte is in hegtenis geneem na die aanval op Grietha. In nóg ’n aanval was ook Dirk Kritzinger (81) op 21 Julie in ’n plas blad bloed in sy huis op kleinhoewe in Louwsbaken, Cullinan, gevind.

Dirk is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Sy vrou Sarie (77) was aangerand en is per ambulans na ’n hospitaal vervoer waar sy volgens inligting steeds herstel.

Die Cullinan polisie het een verdagte in die moord op Dirk en die aanranding van sy vrou, in hegtenis geneem.
Teen druktyd was daar nog geen inhegtenisnames in die moord op Neumann gemaak nie.

Van Dyk het die publiek versoek om die Bronkhortspruit polisie te kontak sou hulle oor enige inligting beskik wat tot die inhegtenisneming van die aanvallers kan lei.



LEES OOK: Louis van der Walt neem wenfoto van die maand

Related Articles

Back to top button