CrimeLocal newsNews

Rubberkoeël en pepersprei verjaag koekiediewe by ongeluk

’n Vragmotor het omgekeer op die R23. Veiligheidsmaatskappye het saam met die SAPS gewerk om die vrag vanaf die gemeenskap te beskerm.

’n Ongeluk op die R23 het vroeg op 20 Augustus ’n vrag koekies vanaf ’n Galaxy Foods vragmotor geëis.

Volgens kaptein Braam Robberts, kommunikasie offisier van Standerton SAPS, het die bestuurder van die vragmotor na bewering agter die stuurwiel aan die slaap geraak en by die laaste verkeersirkel beheer oor die vragmotor verloor.

Die vragmotor het bo-oor die sirkel gery en omgeval. ‘n Skare mense het op die toneel begin saamdrom om, na wat verneem word, die houers gevul met ‘n verskedenheid koekies te probeer wegdra.

Preutt Sekuriteit het vanaf Volksrust gereis om die toneel te beveilig. Lekwa verkeer, die SAPS, Kasselman Veiligheidsdienste (KVD), VEA en die plaaslike brandweer was op die toneel tot die vragmotor verwyder is.

Volgens Robberts moes die vrag per hand afgelaai word voor die voertuig deur Van Wettens op sy wiele gebring is en daarna moes die vrag weer per hand opgelaai word.


Dié vragmotor het omgeval nadat die bestuurder na bewering aan die slaap geraak het.

Skade aan die vragmotor se sleepwa het probleme gebied toe die vrag weer opgelaai moes word, en KVD het hul vragmotor aangebied om die vrag te help dra.

Verskeie rolspelers se bakkies is ook gebruik in die poging om die vrag te red.

“Gemoedere het teen tye hoog geloop omdat die gemeenskap gevoel het dat van die koekies hulle toekom,” het Robberts gesê.

Rubberkoeëls is naderhand afgevuur en pepergas ingespan om die eiendom te beskerm. Geen ernstige beserings is aangemeld terwyl die toneel aktief was nie.

Diegene wat in beheer was van die toneel het lang, vermoeiende ure ingesit om te verseker dat die vrag beskerm is. Die bestuurder van die voertuig is in Standerton Hospitaal met geringe beserings opgeneem.




ALSO READ: Delmas Herleef se wyksleiers kuier saam VKLM

ALSO READ: Help kleuter van Cullinan om epilepsie te oorkom

Related Articles

Back to top button