Local newsNewsStreeknuus

Help kleuter van Cullinan om epilepsie te oorkom

Dié behandeling gaan egter bykans R70 000 kos, geld wat die Erasmus-egpaar eenvoudig nie het nie. Hulle het ook nie ’n mediese fonds nie.

Met sy bruin oë wat glinster van kindwees en sy skouer-lengte hare, lyk Noah Erasmus na ’n gewone vyfjarige woelwater.

Hy gesels te lekker met die kuiermense en verpes ook so tussendeur sy tweeling-sussie Abigail. Maar sy ouers Tony en Nicole probeer hom rustig hou, want omstandighede kan enige tyd vir dié kleinding draai.

Wanneer ’n epilepsie-aanval toeslaan en deur hul lieflingseuntjie se liggaam ruk, voel hulle magteloos. Dit gebeur so vinnig en gereeld – soms tot ses keer per dag.

Die nagevolge is gewoonlik ’n paar dae in die hospitaal. Ma Nicole (37) was destyds alleen tuis met die tweeling toe Noah vir die eerste keer ’n toeval gehad het. Dit was ’n geweldige skok. Noah is in 2020 met epilepsie gediagnoseer.

“Dis swaar om so iets te aanvaar. Dit breek my hart om my kind so te sien,” het Tony gesê.

“Die dokters het eers gedink die toevalle het verband gehou met gereelde mangelontsteking, maar het daarteen geskop toe die ouers die mangels wou laat uithaal het.

“Ons het toe maar besluit om ons eie ondersoeke te laat doen. ’n Breinskandering het gewys daar is ’n gewas op die regter frontale lob wat ook moeilikheid veroorsaak,” het Tony verduidelik.

Die Erasmus-egpaar het op die Epi Clinic Health & Wellness Diagnostic Centre afgekom waar verskeie probleme met Noah ontdek is.

Dié sentrum bied wel iets wat niemand anders nog vir hierdie ouers kon gee nie, naamlik hoop. Met die regte behandeling, dieet en medisyne kan Noah se lewe wel verander.


LEES OOK: Two DA councillors from Govan Mbeki Municipality are now members of legislature


Dié behandeling gaan egter bykans R70 000 kos, geld wat die Erasmus-egpaar eenvoudig nie het nie. Hulle het ook nie ’n mediese fonds nie.

Hulle het al navraag gedoen oor ’n mediese fonds vir Noah, maar weens sy bestaande toestand is kwotasies astronomies duur.

Tony is ’n kontrakteur by Petra Myn op Cullinan en Nicole is voltyds tuis om na Noah om te sien en ook seker te maak dat hy betyds sy medisyne kry.

Abigail wil graag kleuterskool toe gaan, maar sy is ook byna onafskeidbaar van haar boetie. Dit is boonop ’n probleem omdat Noah so vatbaar vir siektes is.

’n Back A Buddy-blad is met die hulp van Elzaan en Chris Barkhuizen gestig, maar bittermin donasies het al ingekom.


Die vyfjarige Noah Erasmus ly aan epilepsie, maar daar is hoop met ’n behandelingsprogram.

Die Barkhuizens het nou ’n kompetisie van stapel gestuur waar jy ’n kaartjie van R200 kan koop en dan die kans staan om ’n vleis-geskenkbewys van Meatmaster Slaghuis te wen.

Die opbrengs van die kaartjieverkope sal aan Noah geskenk word.

“Ons is ongelooflik dankbaar teenoor Elzaan en Chris vir hul ondersteuning. Dit beteken die wêreld vir ons,” het Nicole gesê.

Die gemeenskap word gevra om te help deur kaartjies te koop of om donasies direk op die blad te maak. Die skakel na blad is https://www.backabuddy.co.za/campaign/noah-erasmus-2

Vir meer inligting, skakel Elzaan by 076 090 9088 of vir Nicole by 076 034 8722.



Related Articles

Back to top button