Local newsNewsStreeknuus

Loffies is trots op hul dapper stapper-juffies

“Om vir vyf dae met jou volle rugsak en jou “slaapplek” op jou rug te stap, spreek van deursettingsvermoë, vir seker.”

Twee personeellede van Eloff Laerskool, Janet Schoonraad en Dalene Venter, het gedurende die afgelope Julie-skoolvakansie die Visrivierkloof (Canyon) gaan stap.

Die twee Loffie-stappers was deel van ’n groep van 14 wie vanaf 2 Julie tot 6 Julie die tog aangepak het.

Die Vis, bekend as die grootste kloof in Afrika en die tweede grootste in die wêreld, is ’n hele 160km lank en sy breedste gedeelte is 27km wyd.

Die stappers se tog het by Hobas, 870m bo seevlak begin. Dié eerste gedeelte van die staproete is baie steil en daal tot onder in die vallei sowat 500m oor ’n afstand van twee kilometer.


Janet Schoonraad, onderwyseres by Laerskool Eloff, hier saam met haar man, Louis.

Volgens die twee onderwysers was die terrein ’n groot uitdaging – daar was op sand en rivierklippe en ook by die rivier-oorgange gestap en nogmaals gestap.

“Om vir vyf dae met jou volle rugsak en jou “slaapplek” op jou rug te stap, spreek van deursettingsvermoë, vir seker,” het Louise van Niekerk, hoof van Laerskool Eloff, laat hoor.

“Die sterreprag snags, Von Trotha se graf, die Vespa en natuurskoon het egter definitief bygedra om die swaarkry, met lekkerkry, klaar te kry,” het die onderwysers vertel.

“Ons is sommer báie trots op die twee juffrouens,” het van Niekerk afgesluit.


Related Articles

Back to top button