Local newsNewsStreeknuus

Delmas VLU-tak verwelkom hul voorsitter met ope arms terug

Die organisasie, Vroue Landbou Unie, val onder die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, ’n wêreldwye organisasie wat meer as nege miljoen lede het.

Marié Terblanche is weer terug in die voorsitterstoel van die Vroue Landbou Unie se tak op Delmas.

Die lede het op 28 Mei in die saal van die Hervormde Kerk vergader.

Dit was ’n heuglike dag vir die lede, want hulle kon na drie maande van afwesigheid weens ’n rugoperasie, weer hul voorsitter, Marié Terblanche, terug verwelkom.

Volgens die tak se skakelbeampte, Magriet Swart, kon Marié met dankbaarheid reflekteer oor haar herstelproses.

“Sy het ook elkeen bedank wat by haar besoek afgelê en boodskappies gestuur het.”

Marié het met warm verwelkoming aan Wanda Coetzer, die dag se gebeure geopen.

“Wanda en haar man het onlangs vanaf Marble Hall na Eloff verhuis,” het Magriet vertel.

Elma Labuschagne en Lynette Gasson, wie Marié nog nie ontmoet het nie, was ook verwelkom. Jeanette Scheepers wat haar verjaarsdag op 8 Mei gevier het, het ’n geskenkie ontvang. Marié het die huisreëls voorgelees en die samestelling van die VLU met die lede gedeel.

Die organisasie, Vroue Landbou Unie, val onder die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, ’n wêreldwye organisasie wat meer as nege miljoen lede het.

Die VLU beywer hulle vir die opheffing van plattelandse vroue en Magdie de Kok van die Grootvleitak, Mpumalanga, dien tans as voorsitter.

Onder SA VLU sorteer al die provinsies met die uitsondering van die Kaap. Elke provinsie bestaan uit streke en elke streek het verskeie takke.


Jeanette Scheepers en Ansie van Zyl bespreek die Sri Lanka boorduurtegniek..

Die Delmas-tak sorteer onder die Carpe Diemstreek saam met ses Witbank-takke, naamlik Azaria, Celebré, Magnolia, Nocturne, Soireé en die Witbank-tak.

Die Mpumalanga-streke is Carpe Diem, Tambuki, Hoëveld, Malieveld, Suikerbos en Kosmos en Carpe Diem.

Met die formaliteite op ’n einde het Jeanette Scheepers aan die beurt gekom om ’n klas in Sri Lanka-borduurwerk aan te bied.

“Sy het vertel dat die kleurvolheid van hierdie tipe borduurwerk eiesoortig is aan die karakter van die Sri-Lankers wat graag ook so kleurvol aantrek,” het Magriet gesê.

Volgens Jeanette word hierdie borduurwerk gekenmerk deur onrealistiese diere-ontwerpe, met veelkleurige appliek- en borduurwerk.

Krale, blinkers, skuinsband, kartelband en plat gallon word as omlyning gebruik. Verskeie siersteke soos veersteek, vliegsteek en stamsteek word onder andere ook ingespan om hierdie eiesoortige kunswerke te maak.

“Na nog ‘n leersame en interessante oggend het ons vroue geïnspireerd huiswaarts gekeer,” het Magriet afgesluit.
Enige vroue, 18-jaar plus, wat belangstel om meer van die Delmas VLU-tak te hore te kom is welkom om vir Marié by 083 968 2203 te skakel.

Related Articles

Back to top button