CrimeLocal newsStreeknuus

Vermeende kapers in hul spore gestuit tydens Operasie Shanela

’n Wit Datsun Go het glo in hul rigting beweeg, gestop,en twee gewapende mans het uitgeklim, na die insittendes van die bakkie beweeg en op die voertuig losgebrand.

Die polisie op Delmas het twee vermeende kapers, Tebogo Mehlapi en Godfrey Mahlangu, op die R42-pad, digby Delmas in hegtenis geneem.

Die slagoffer en sy vriendin was volgens inligting op die N12 vanaf Middelburg, in die rigting van Delmas onderweg in hul Isuzu bakkie.

Die paartjie het die R42-afrit geneem en gestop waar hulle glo vir ’n vriend van Benoni sou wag.

’n Wit Datsun Go het glo in hul rigting beweeg, gestop, en twee gewapende mans het uitgeklim, na die insittendes van die bakkie beweeg en op die voertuig losgebrand. Die bestuurder van die bakkie het op die R42, in die rigting van Bronkhorstspruit, gevlug.

Terselftertyd was die Delmas Polisie as deel van Operasie Shanela op patrollie in die omgewing. Lede het die bakkie teen hoë spoed gewaar asook die wit Datsun in dieselfde omgewing.


Die wit Datsun Go wat na bewering by ’n poging tot kaping by Delmas betrokke was.

Die bestuurder van die bakkie het egter glo intussen omgedraai, en in die rigting van Delmas gery toe hy die groot polisie teenwoordigheid gewaar het. Die polisie het beide voorgekeer en dadelik begin om die voertuie en insittendes te deursoek.

Volgens die polsisie het dit egter vining geblyk dat die twee insittendes van die Isuzu die slagoffers van ’n kapingspoging was. Die bakkie was glo ook vol koeëlgate.

Tydens hul ondersoek na die wit Datsun en die insittendes was ’n wapen met ongeveer 11 lewendige rondtes sowel as ’n ander wapen (airgun) gevind.

Die twee verdagte kapers is op die toneel in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die wapens.
‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat een vuurwapen wel gelisensieerd is en aan een van die verdagtes behoort.

Volgens die polisie sal die wapen ballistiese toetse ondergaan om te bepaal of dit moontlik in ander krimenele aktiwiteite gebruik was.


’n Vuurwapen waarop daar beslag gelê is tydens ’n kapingspoging.

“Die lede het verder op balaklavas beslag gelê en het die moontlikheid van verdere klagtes nie uitgesluit nie,” het Kolonel Donald Mdhluli, mediawoordvoerder vir die Mpumalanga Polisie, gesê.

Luitenant Generaal Semakaleng Daphney Manamela, die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, het haar dank teenoor die lede uitgespreek.

“Alhoewel die verspreiding van onwettige vuurwapens in ons provinsie ’n groot probleem is, het Operasie Shanela ons in staat gestel om menige vuurwapens op te spoor asook verskeie verdagtes in hegtenis te neem.

“Ons probeer tans om meer inligting omtrent die verdagtes te bekom en kan moontlik so sommige van die kapings oplos,” het Manamela gesê.

Dit blyk die polisie was op presies die regte tyd op die regte plek. Operasie Shanela het bygedra tot die redding van die twee slagoffers van ’n kapingspoging en die polisie kon ook twee vermeende kapers boonop aangekeer het.

Mehlapi en Mahlangu het op 6 Mei in die Delmas Landroshof verskyn op aanklagte van poging tot kaping, poging tot moord en die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar. Die twee bly in aanhouding en sal weer op 13 Mei in die hof verskyn.



ALSO READ: Trichardt teen takes off in a helicopter in solo flight

ALSO READ: Inspeksie van verskeie winkels in Standerton lei tot sluiting

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button