Local newsStreeknuus

Swaar voertuie neem Delmas oor

Sarel Cilliersstraat word saans as ’n parkeergebied vir vragmotors gebruik en daar is soms nie behoorlike beweegruimte vir gewone voertuie in dié hoofstraat van Delmas nie.

Waar voertuie in veiligheid moet kan beweeg binne die dorpsgebied van Delmas, neem swaarvoertuigverkeer nou beheer.

’n Jong inwoner was op 22 Maart vanaf ’n kitskosrestaurant op pad na haar woonplek in Delmas-Wes in ’n ongeluk, met juis so ’n swaarvoertuig, op die hoek van Derdestraat en Vierdelaan betrokke.

Dineo Molwela het Streeknuus meegedeel dat sy in Derdestraat in die tweebaan-eenrigting gery het.

Omdat sy links wou draai en die vragmotor in die regterkanste baan was, het sy langs dit inbeweeg.

“Die vragmotor het geen flikkerligte aangehad nie en ek het geglo dat dit reguit aan wou ry. Dit het egter vanuit die regterkantse baan links begin draai.

“Die botsing het my karretjie behoorlik opgefrommel en was ’n baie traumatiese ondervinding,” het Molwela gesê.

Molwela het Streeknuus verder meegedeel dat die sy die kar net twee weke terug gekry het. Dit was splinternuut en het nog nie eers nommerplate opgehad nie.

Die bestuurder van die vragmotor het op sy beurt vertel hy het in sy spieëltjies gekyk en dat daar geen motors agter of langs hom was nie.

Hy moes glo vanuit die regterkanste baan draai omdat dit ’n 32-ton vragmotor is en hy andersins nie sy draai sou kon maak nie.

Dit bring die vraag na vore, is Delmas se paaie ontwerp en gemaak vir swaarvoertuigverkeer?

Streeknuus het ook reeds in ’n vorige uitgawe berig oor die skade wat hierdie vragmotors, nie net aan paaie nie, maar ook aan ander infrastruktuur op die dorp, aanbring.


Skade aan ’n voertuig wat vanuit Derdestraat op Delmas wou regs draai, maar deur ’n vragmotor getref is.

Toe daar nog verkeersligte in Sarel Cilliersstraat bestaan het, het vragmotors ook met die draai in en vanuit die straat die verkeersligte gehaak en saamgesleep.

Stormwaterdreine is deur die vragmotors se wiele vertrap en skade aan sypaadjies, randstene en die middelman aangebring.

Nie-werkende verkeersligte is intussen met stoptekens vervang, maar die toenemende vragmotorverkeer veroorsaak steeds groot skade regdeur die dorp.

’n Ontstelde Delmas inwoner sê Sarel Cilliersstraat word saans as ’n parkeergebied vir vragmotors gebruik en daar is soms nie behoorlike beweegruimte vir gewone voertuie in dié hoofstraat van Delmas nie.

“Sekere vragmotors moet uiteraard van die dorp se paaie gebruik maak. Ons het afleweringsvoertuie wat aan supermarkte lewer.


LEES OOK: Basie Saayman van Standerton sterf onverwags


“Brandstof aflewering kan byvoorbeeld geensins gekeer word nie, maar dit is die ander soos die steenkoolvragmotors wat ons dorp se paaie opgebruik.

“Ek glo dit is weens die huidige ontoeganklikheid van die R50-pad dat dit gebeur.

“Met die groot reën wat tans val, het Sarel Cilliersstraat heeltemal vergaan. Daar is baie diep en gevaarlike slaggate en die ingang vanaf die R50 was altyd sleg, maar is nou heeltemal onrybaar vir gewone verkeer,” het die ontstelde Delmas inwoner gesê.

“Ek wonder net waar is die verkeersowerhede, waarom word dit nie stopgesit nie?”

Streeknuus het probeer om kommentaar van die verkeersdepartement van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaiteit te kry, maar geen terugvoer was nog teen druktyd ontvang nie.


Related Articles

Back to top button