Local news

Basie Saayman van Standerton sterf onverwags

Na sy opnames in die hospitale het die hele familie en sy naamgenoot ES skouer aan die wiel gesit om te sorg dat die koerante by verspreidingspunte afgelaai sou word.

Oom Basie Saayman van Standerton, bekend vir die weeklikse verspreiding van die Standerton Advertiser, is in die vroeë oggendure van 26 Maart oorlede.

Volgens sy eggenoot, Jeanetta het die nadoodse verslag dit aan natuurlike oorsake toegeskryf. Eusebius Sharpe Saayman is op 19 Julie op Ascent in die Vrede distrik gebore.

Hy het ná skool onderwys by Tukkies studeer en toe in die Vrede- en Standertondistrik geboer. Na sy eerste vrou se afsterwe, het hy by die voormalige Trust Bank ’n betrekking aanvaar, alvorens hy by Tutuka Kragstasie as bestuurder van menslike hulpbronne aangestel is.

Oom Basie het dié portefeulje van 1985 tot 1992 beklee. Die voormalige redakteur van die Standerton Advertiser, wyle William Zwart, het hom destyds aangestel om die verspreiding van die koerant te behartig.

“Hy het tussen 20 en 21 jaar diens by die koerant gedoen,” aldus Jeanetta.

Na sy opnames in die hospitale het die hele familie en sy naamgenoot ES, skouer aan die wiel gesit om te sorg dat die koerante by verspreidingspunte afgelaai sou word.

Selfs op Oom Basie se herdenkingsdiens op 2 April, is die koerante afgelewer.

“Dit was ná die begrafnis gedoen,” het Jeanetta gesê.

ES het nadat hy by Saffas ’n draai gemaak het, die koerante vir kantoorontvangs afgelewer. Oom Basie en Jeanetta was vir 40 jaar getroud.

Uit sy eerste huwelik is ES en Lerina gebore en Frikkie en Lehanri uit die tweede huwelik. Hy was geseënd met 10 kleinkinders en ses agterkleinkinders.

Oom Basie was vir ’n geruime tyd die leierdiaken en daarna die leierouderling in die NG Kerk Standerton, vanwaar die diens om 11:00 deur ds Tiaan Victor behartig is.

By jaarlikse basaars van die kerk het Oom Basie seker gemaak dat die vleistafel op geoliede wiele loop.

“Basie het alles met passie gedoen en was baie lief vir boer,” het Jeanetta onthou.

“Hy het omgegee vir die hele familie.”

Sy humorsin was ook kenmerkend. ’n Goeie vriendin van die Saaymans, Ansie Naudé het gesê, “Basie en Jeanetta was my mentors,”

Victor het onder meer die Oorwinningslied, Oom Basie se gunsteling, op die orrel by sy diens laat speel.

Sy twee seuns, twee skoonseuns, Stiaan Hepburn en Werner Mulder, asook kleinseuns, WJ Hepburn en Sebastiaan Hepburn was die kisdraers.

Eusebius Sharpe Saayman word oorleef deur Jeanetta, kinders, kleinkinders, familie, vriende en kollegas by die koerant.

Related Articles

Back to top button