Local newsNews

Nuwe komitee word vir Standerton Landbouskou verkies

“Die een wat verkies is, sal die verantwoordelikheid aanvaar en dit nie sien as ’n statussimbool nie.”

JT Eksteen is die nuwe president van die Standerton Landbouskou.

Hy is op ’n komiteevergadering by ’n plaaslike gastehuis op 11 Maart verkies om die leidsels by die uittredende president, René Pretorius, oor te neem.

Haar termyn het verlede jaar geëindig. Ouditeure is aangestel vir 2024 en het die stembriefies gekontroleer.

André du Plessis is die nuwe vise-president. Willie Britz is as veepresident verkies en Susan Mocke as veesekretaresse.

Die addisionele lede is Johnnie Smit, Trudi van Dyk en Hanlie Viljoen.


JT Eksteen is die nuwe skoupresident.

Frans Lötz is die perdepresident, Shandré van den Heever die skousekretaresse, Gert Mocke die skoutesourier en Ria Muir behartig handel en nywerheid.

Die Standerton Advertiser het ’n onderhoud met Pretorius voor die vergadering gevoer om haar indrukke oor die skou te boekstaaf.

“Baie plattelandse skoue bestaan glad nie meer nie. Ons is eintlik op Standerton bevoorreg,” het sy gesê.

’n Hoogtepunt in haar termyn was gewis die heropening van die skou na Covid-19.


JT Eksteen, Jan Saaiman (hoofborg) en René Pretorius by die skou verlede jaar.

“Om op die vermaakverhoog te staan en te sien hoe die mense die kunstenaars geniet, sal my bybly.”

Pretorius sal die nuwe president agter die skerms bystaan.

“Ons is geseënd om vrywilligers op die dorp te hê wat bereid is om te werk,” het sy bygevoeg.

“Die een wat verkies is, sal die verantwoordelikheid aanvaar en dit nie sien as ’n statussimbool nie.”


LEES OOK: Die melkbedryf verloor ’n groot gees


Die Standerton Landbouskou vind vanjaar van 12 tot 14 September plaas.

Volgens Pretorius bring die skou voete na gastehuise en restaurante en ’n klinkende voorbeeld is die perdeuitstallers wat die gastehuise in die verlede volgeboek het.

“Dit bly ’n groot uitdaging en kos baie tyd en geld om die terrein voor te berei vir ’n skou. Mense is ons goedgesind wat diensleweringsborge aanbetref. Dit maak my hart warm.”

Wat die kritiek teen die skou aanbetref, het sy bloot gesê: “Ons inwoners moet ’n kultuur van diensbaarheid in hul huise kweek.”


Related Articles

Back to top button