Local newsStreeknuus

Kersvader kuier by Eloff Buurtwag se vrolike jaarafsluiting

Heila Coetzee was beskryf as die ‘gom’ wat dié buurtwag aanmekaar hou en was daarvoor vereer.

Eloff Buurtwag se lede het op 10 Desember op Laerskool Eloff sportgronde bymekaargekom om die jaar op prettige wyse af te sluit.

Die kleingoed het op die waterglybaan baljaar terwyl ander lede gesellig onder gazebo’s en die bome gekuier het.

Die groot oomblik van opwinding het aangebreek toe Kersvader sy opwagting maak. Geskenke is uitgedeel en daarna was Kersvader deur die jongklomp met ’n aanbieding van ’Lyfie’ van Bernice West vermaak.

Lede was ook vereer vir hulle uitstaande bydraes gedurende 2023. Verskeie lede het toekennings ontvang vir onder meer radiotoets, eerstehulp bystand, verkeerbeheer, brandbestryding en vele meer.

Heila Coetzee was beskryf as die ‘gom’ wat dié buurtwag aanmekaar hou en was daarvoor vereer.

Na afloop van die formaliteite was daar heerlik gesmul aan worsbroodjies, koue waatlemoen en die buurtwaglede het ook aan jolige boeresport deelgeneem.

“Ek wil net vir elkeen van ons staatmakers wat deur die jaar so hard gewerk het, opreg bedank,” het Coetzee gesê.

Coetzee het verder vir elkeen wat tot die sukses van die buurtwag se jaareindfunksie bygedra het in die vorm van geskenke, reëlings en borge, baie dankie gesê.


Related Articles

Back to top button