Local newsNewsStreeknuus

Onteiening sonder vergoeding onder die loep

Ander lande het nog altyd onteiening wetgewing gehad vir openbare en publieke doel.

Suid-Afrika soos baie ander lande het nog altyd onteiening wetgewing gehad vir openbare en publieke doel.
Eiendom was gedefinieer as grond, en kon onteien word teen markwaarde vir paaie, damme en ontwikkeling.

Die nuwe voorgestelde wetgewing “Onteiening sonder vergoeding” is ’n totale ander situasie, volgens die voorsitter van die Transvaalse Landbou Unie (TLU), Henri Combrink.

“Eiendom is nie net meer grond nie. Dit kan wyer geïntreperteer word, soos daarna verwys word in artikel 25 van die Grondwet, wat sê dat eiendom is nie net grond nie.

“Dit kan dus enige roerende of nie-roerende bate wees soos voertuie, beleggings en selfs jou besigheid, en jy sal nie noodwendig daarvoor vergoed word nie.”

Die rede vir onteiening is ook ’n grys area omdat daar verwys word na ‘openbare belang’ wat ’n baie wyer definisie is.

Combrink meen die Grondwet verwys na openbare belang as die nasie se verbintinis tot grondhervorming en om gelyke en billike toegang tot hulpbronne vir almal te bewerkstellig.

TLU SA en sy affiliasies was van die begin af gekant teen dié wetswysiging en het saam met duisende ander mense en instellings geskrewe besware ingedien.

TLU SA het ook voor die parlementêre komitee mondelinge voorleggings gedoen teen die wysigings.

“Hierdie wetswysiging is goedgekeur deur die parlement en verwys na die Raad van Provinsies vir finale goedkeuring.

“Die proses is tans aan die gang en TLU SA het weer eens geskrewe voorlegging gedoen,” het Combrink verduidelik.

TLU SA en die Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI) het verlede week ’n gesamentlike mondelinge voorlegging gedoen teen die wetswysiging.

Combrink het gesê as ses van die nege provinsies ten gunste van die wetswysiging stem, is dit goedgekeur, en sal dit gepromulgeer word as wet.

“Hierdie is ’n ideologiese standpunt van die ANC en ’n poging om stemme te werf voor die verkiesing in 2024.”

TLU SA is nie van mening dat daar onmiddelik grootskaalse onteiening gaan plaasvind nie, maar die deur word nou oopgemaak om dit te kan doen en dit skep groot onsekerheid oor die toepassing of moontlike misbruik van die wet.

“Die impak van hierdie onderdagte besluit hou niks goed in vir Suid-Afrika en sy mense nie. Dit is n aantasting van ons eiendomsreg en dit is ongrondwetlik.”

“Ekonomie en beleggings kan daaronder ly,” het Combrink gesê.

Buitelandse beleggers kan dit ook sien as ’n groot risiko.

Volgens Combrink kan werkloosheid toeneem omdat maatskappye nie meer wil belê nie, en die ekonomie kan inkrimp.

Die wysiging is ook teenstrydig met die AGOA-ooreenkoms met Amerika wat beleggings en handelsooreenkomste in gedrang kan bring.

“Voedselsekerheid kan in gedrang kom, want boere is onseker of hulle belegings en bates veilig gaan wees,” het Combrink verduidelik.

Vir navrae oor TLU SA kontak Combrink by 082 552 9428.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button