CrimeLocal newsStreeknuus

Kershaw-moordenaars kry lewenslank in hof op Delmas

Tivane is die maksimum vonnis vir moord die op Kershaw, naamlik lewenslange tronkstraf opgelê en ’n verdere 20 jaar gekry vir roof met verswarende omstandighede. Masuku is ook ’n lewenslange vonnis vir moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede opgelê.

Die hartseer sage rondom die moord van Chantel Kershaw drie jaar gelede, wat die gemeenskap van Rietkol en omgewing geruk het, het byna tot op die dag tot ’n einde gekom.

Regter Lindiwe Vukeya het op 13 September die moordenaars in die Rondgaande Hooggeregshof op Delmas gevonnis.

Die moordenaars wat Kershaw in die motorhuis van haar ma se kleinhoewe op Rietkol op 30 September 2020 vermoor het, is Reuben Thomas Tivane (51) en Elvis Kenneth Mashego (50).

Tivane is die maksimum vonnis vir moord, naamlik lewenslange tronkstraf, opgelê en ’n verdere 20 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Masuku is ook ’n lewenslange vonnis vir moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede opgelê. Beide Tivane en Masuku is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Vukeya het genoem dat sy na deeglike nabetragting en met inagneming van die versagtende omstandighede wat voor die hof gelê was, tot dié besluit gekom het.

“Moord bly ’n ernstige misdaad. Dit is ’n feit dat plaasmoorde in Mpumalanga ’n groot probleem is – die terme daarvoor is wit volksmoord,” het Vukeya in die hof gesê.


Elsie Coetzer en Grieta Spiers kort voor die vonnisuitspraak in die Rondgaande Hooggeregshof op Delmas.

“Plaasmoorde is ’n werklikheid in Suid-Afrika en hoewel die hof besluit het dat die moord op Chantel nie ’n plaasmoord was nie, glo ek dat dit weens die omstandighede waarin die moord gepleeg is, binne die kriteria val.

Dit was swart op wit – wit volksmoord.

“Die aanval en moord was gemik op twee vroue wat alleen op ’n kleinhoewe gebly het en waarvan een boonop bejaard is. Vandaar my besluit om dit as ’n plaasmoord te klassifiseer,” het Vukeya gesê.

Vukeya het verder haar misnoeë uitgespreek dat nie Tivane of Masuku werklike berou getoon het nie.

Sy het die Sundra Bulldogs Buurtwag bedank vir hul vinnige reaksie en dit wat hulle as buurtwag vir die gemeenskap doen en beteken.

Na afloop van die vonnisoplegging het ook die provinsiale kommissaris van polisie, Luitenant Generaal Semakaleng Daphney Manamela, haar dank teenoor die ondersoekspan, sowel as die Sundra Bulldogs Buurtwag uitgespreek.


’n Witkruis ter herinnering aan Chantel Kershaw wat tydends ’n optog teen plaasmoorde by die hof op Delmas vertoon was. Foto: Streeknuus argief

“Ons waardeer en erken die uitstekende werk wat deur die buurtwag gedoen was wat tot die spoedige inhegtenisname van die twee aangeklaagdes gelei het.

“Ons bedank ook die vervolgingspan tesame met die regbank vir hul gesamentlike moeite wat tot hierdie enorme sukses gelei het,” het Manamela in ’n mediaverklaring op 15 September, gesê.

Kaptein Linky Olckers, bevelvoerder van die Sundra Polisie het haar dank teenoor die speurhoof van Sundra, adjudant-offisier Eddie Rapakgadi uitgespreek vir sy uitstekende werk en deursettingsvermoë.

’n Emosionele Derek Bester, voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag het op sy beurt gesê hy is bly dat die saak op ’n einde is.

“Die saak het my na aan die hart gelê. Ek was die eerste om daardie dag op die toneel aan te kom en dit wat ek daar gevind het, was nie mooi nie. Ek sal dit nie maklik kan vergeet nie,” het Bester gesê.

Bester het ook die buurtwaglede en elkeen wat op daardie dag hulp verleen het, opreg bedank.
Kershaw se ma, Grieta Spiers, die dag van die aanval ook aangerand.

Op die dag van vonnisuitspraak was beide Spiers en haar tweelingsuster, Elsie Coetzer in swart geklee.

Na afloop van die uitspraak het ’n bleek, maar verligte Spiers Streeknuus meegedeel sy is dankbaar dat die nagmerrie nou oor is.

Spiers het ook weer vir Coetzer bedank vir haar bystand. Sy het verder ook die Sundra Polisie, en spesifiek vir Rapakgadi asook die regspan bedank vir die ondersteuning oor die afgelope drie jaar.

Coetzer het gesê sy is dankbaar geregtigheid het geskied.

“Ek glo dat Grieta nou ’n mate van berusting sal kry en dat sy met haar lewe, hoewel sonder Chantel, sal kan voortgaan. My enigste kind is dood en niks kan haar terugbring nie, maar ek glo geregtigheid het geskied,” het Spiers gesê.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button