Local news

Sonja van Heerden van Standerton gryp elke nuwe geleentheid aan

Dié eertydse model wat vir ’n internasionale agentskap gewerk het, se paaie met Leon, haar man, het reeds by Hoërskool Pionier op Vryheid gekruis.

Draai gerus die aardbol op sy as en soek waar Carletonville, Thabazimbi, Vryheid, St Lucia, Stellenbosch, Amsterdam, London, Parys, Kanariese Eilande, New York en Ibisa is.

Een vrou het hierdie bestemmings eerstehands ondervind.

Sonja van Heerden en haar man, Leon het in Mei verlede jaar na Standerton verhuis en hulle bokboerdery op Thabazimbi, asook leermaatskappy, vaarwel geroep.

Leon en Sonja se maatskappy het handgemaakte velskoene en leerprodukte vervaardig en Sonja het ook bokmelkkaas vervaardig. Dit het alles op skoonpa se plaas gebeur.

Leon boer nou met beeste op die hoëveld en Sonja se twee Jersey-koeie, Bettie en Blom, sorg dat sy weer kaas begin vervaardig het.


 


Dié eertydse model wat vir ’n internasionale agentskap gewerk het, se paaie met Leon het reeds by Hoërskool Pionier op Vryheid gekruis.

Hulle het begin uitgaan toe hulle 16 en 18 was.

“Dit het sewe jaar geneem voordat ons getroud is,” het Sonja verduidelik.

Dire Straits se Romeo en Juliet is die liedjie wat die knoop deurgehaak het.

Sonja was in die Kaap vir nagenoeg agt jaar en het te midde van die oorsese reise, skaars drie maande van die jaar in Suid-Afrika deurgebring.

“Ek het die somer gejaag,” aldus Sonja.

Die geboorte van Leja het aanleiding tot ’n kontrak gegee waar ma en dogter voor die kameralens onder meer babakleertjies vertoon het.

Leja was toe ses maande oud en heel gerieflik omdat sy onder ma se oog was. Die Van Heerdens het ook ’n seuntjie, AJ wat in Desember twee jaar oud sal wees.

Sonja se kommersiële werk het op die ouderdom van 20 begin en teen 28 geëindig. Sy het die agentskap lof toegeswaai vir hul bankvaste ondersteuning tydens haar loopbaan.

“Ek het meestal met ordentlike mense in my loopbaan gewerk.”


LEES OOK: Dad of initiate who died in Leandra, claims tongue was removed


Haar skoonpa het gesê sy sal van Jerseys hou en Bettie bokspring sommer nou as sy haar in hul kampie roep.

Die Jerseys aard beter in die koeler hoëveldklimaat as snikhete bosveld. Bettie lewer 14 liter melk daagliks en Blom nagenoeg 20 liter.

Sonja bak ook suurdeegbrood en het die plantjie wat sy Wanda gedoop het. Uiteraard is daar ook ’n groentetuin.
Hul een rifrug het nege kleintjies en die Irish terrier is ook op die werf.

Dié veelsydige vrou het besluit om haar kinders tuis te onderrig. Met haar bewese suksesrekord op verskeie vlakke, behoort dit ook met entoesiasme baasgeraak te word.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button