Local news

Denner-gesin bedank gemeenskap nadat hul huis op Secunda brand

“Vreemde mense wat ons nie eers ken nie het so baie geskenk”

’n Bybel is een van die min dinge wat oorgebly het en nie vernietig is nie nadat die Denner-gesin se huis in Witzenbergstraat op 26 Julie gebrand het.

Die gesin het net twee weke voor die brand vanaf Kinross verhuis en by die huis in Witzenbergstraat ingetrek.

Wynand Denner, sy vrou Charné en hul tweejarige seuntjie Deandré het op dié dag net voor 13:00 gery om hul dogtertjie Wané (5) by Laerskool Trichardt te gaan haal.

“Terwyl ons nog gery het, het mense ons gebel en gesê ons huis brand, maar ons het gedink dit kan nie wees nie, dit is seker ’n ander huis,” het Wynand vertel.

Toe die gesin terugkom by hul huis, was die helfte van die huis egter al in ligte laaie.


Die Denner-gesin, Wané, Wynand, Charné en Deandré.

“Al wat in ons kamer oorgebly het, was die Bybel wat oop daar gelê het,” het Charné gesê.

Wané was baie ontsteld toe sy gesien het al haar speelgoed en klere het gebrand.

“Ons het net ’n week voor die brand vir die kinders nuwe klere en speelgoed gekoop.”

Die items in hul huis wat nie gebrand het nie, stink steeds na rook.

Die gemeenskap het egter hul harte en hande oopgemaak en die gesin is oorweldig deur al die hulp en skenkings wat hulle gekry het.


LEES OOK: Delmas Herleef tot Dorp van die Jaar 2023


“’n Mens kan sien dit is nuwe goed wat hulle geskenk het en dit kom van mense wat ons nie eers ken nie. Dit lyk of ons reeds weer ’n volledige huisinhoud het.

“Ons weet nie wie is die mense wat almal iets geskenk het of bygedra het nie, maar baie dankie, ons waardeer dit opreg. Ek wil ook vir die Here dankie sê wat ons deur dié tyd van trauma gedra het en voorsien het,” het Charné gesê.

Die gesin het in die besonder vir Nick Mathios van Secunda SuperSPAR bedank asook Tutela op Secunda en Melissa Cooper en Johan Booysen vir hulle hulp en ondersteuning.

Volgens die verslag is dit ’n elektriese fout wat die brand veroorsaak het.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button