Local newsStreeknuus

Delmas Herleef tot Dorp van die Jaar 2023

“Ons kan nie nou laat slap lê nie, ander dorpe en mense gaan ons kom besoek om te hoor hoe ons dit gedoen het en ons sal skouer aan die wiel moet sit.”

In groot opgewondenheid het die inwoners van Delmas voor die televisie in hul stoele reggeskuif. Dit was Sondagaand, 6 Augustus en die rede vir die groot afwagting was die aankondiging vanaf Kwêla, in samewerking met Lottoland, se Dorp van die Jaar vir 2023.

Delmas was een van die finaliste saam met Margate, Parys, Walvisbaai, Bonnievale, Hartbeespoort, Willowmore, Nieuwoudtville en Rooiberg.

Ook lede van die vrywillige organisasie, Delmas Herleef se komitee het tydens ’n klein geselligheid angstig gewag op die lang verwagte uitslag. Om 19:45 was die aap uit die mou en is Delmas as die wenner vir 2023 aangekondig.

Die aankondiging dat Delmas die wenner is en boonop met 10 000 stemme oor die ander dorpe geseëvier het, het behoorlik opskudding onder Delmas Herleef-lede én in die res van die dorp veroorsaak. Sosiale media het binne sekondes nadat die nuus bekend geword het gegons.


’n Spesiale oomblik op ’n grou en koue dag op die strand in Kaapstad, Madel Fourie en dr Martin van Rensburg. Foto: Christelle Parrott

Streeknuus was geëerd om die funksie by te woon en die ongelooflike reaksie van die vrywilligers eerstehands te beleef.

Dié kykNET opname moes voor die uitsending in Kaapstad gemaak word en die groepie moes inderhaas en in groot geheimhouding daarheen vlieg.

Volgens Madel Fourie en doktor Martin van Rensburg was dit bitter moeilik om die uitslag vir die gemeenskap weg te steek, maar dié twee en etlike ander bestuurslede wat van die uitslag geweet het, het hul uitstekend van hul taak gekwyt.

Met die Dorp van die Jaar toekenning in die sak kan Delmas dan nou ook gereed maak vir ’n nog groter gemeenskap makietie.


Dr Martin van Rensburg, Maryke Haywood, Madel Fourie en Hannes van Wyk. Foto: Christelle Parrot

Deel van die prysgeld sluit in groot feesviering met sangers, heerlike kuier en groot pret. Kwêla het ook aangedui dat hulle gaan saam kuier en dat dié beeldmateriaal later vanjaar uitgesaai sal word.

As deel van die prys is daar ook R1m se bemarking ingesluit sowel as die R1m in kontant. Die kontantprys prys van R1m is deur Maryke Haywood, bemarkingsbestuurder van Lottoland, aan van Rensburg en Fourie oorhandig. Van Rensburg het ook gesê dat daar nou ’n baie groot verantwoordelikheid op Delmas Herleef wag.

“Ons kan nie nou laat slap lê nie, ander dorpe en mense gaan ons kom besoek om te hoor hoe ons dit gedoen het en ons sal skouer aan die wiel moet sit.”

Van Rensburg het verder aangedui dat daar onder andere toerusting aangekoop sal word ten einde slaggate op ’n meer professionele wyse te herstel. Groot klem sal ook gelê word op die effektiewe bestuur van rommel.


LEES OOK: Municipality leaves holes at disabled man’s house in Evander


“Rommelstrooiing bly ’n groot en voortdurende kopseer. Ons (Delmas Herleef) het reeds twee mense in diens wat twee keer per week rommel in die strate optel, maar ons kan dalk nou werksgeleenthede skep deur meer mense meer gereeld te laat rommel optel.”

Beide Martin en Madel het ook elke vrywilliger van Delmas Herleef, die boere gemeenskap en besighede bedank vir hul onbaatsugtige werk en bystand sedert die ontstaan van Delmas Herleef in 2020.

“Delmas se oorwinning hou vir ons ‘n boodskap van hoop in. Daar is hoop vir plattelandse dorpe. Die dorpe kry maar almal swaar, maar ons sien hierdie oorwinning as ’n geleentheid om vir ander dorpe te wys dat daar hoop is,” het van Rensburg tydens sy onderhoud op die kassie laat hoor.

Fourie het bygevoeg dat die fondasie van Delmas Herleef op die van geloof gegrond is dat daar nog groot dinge op Delmas wag.


Delmas Herleef-lede in vrolike luim kort na die aankondiging dat Delmas as Dorp van die Jaar vir 2023 aangekondig is.

Delmassers deel nou in die groot eer saam met die vorige 12 wenners, Greytown, Kareedouw, Swakopmund, Jeffreysbaai, Mosselbaai, Mariental, Graaf-Reinett, De Rust, Sabie, Fouriesburg, Middelburg en verlede jaar se wenner Kroonstad.

Dié sukses was egter verdien en word grootliks toegeskryf aan die vrywillige groep Delmas Herleef, onder leiding van die Hervormde Kerk op Delmas se predikant, doktor Martin van Rensburg en vyfde geslag Delmas-inwoner, Madel Fourie.

Volgens die twee het Delmas Herleef nederig ontstaan en die gesamentlike doel was om iets aan Delmas se agteruitgang en voorkoms te doen.

Dit was gedurende Erfenismaand van 2020 en die bal was aan die rol. Verskeie kleiner projekte het die lig gesien, rommel was opgetel, slaggate herstel en randstene geverf. Samewerking was ook by die plaaslike munisipaliteit bewillig.

Teen druktyd het Delmas herleef reeds vergaderings vir nuwe projekte en beplanning gereël, maar eers gaan Delmas hul groot en welverdiende makietie hou.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button