Local newsLocal sportNews

Secunda se Sasol Grip & Rip rugbyspanne klop Witbank

Die tuisspan kom op 29 Julie teen Witrivier op Secunda te staan in die halfeindstryd van die Mpumalanga Premierliga.

Sasol Grip & Rip Rugbyklub het Saterdag met hul sege oor Witbank hul plek in die halfeindstryd van die Mpumalanga Premierliga verseker.

Sasol en Witbank het mekaar op Secunda in ’n klipharde wedstryd waar die humeure gereeld opgevlam het, gepak. Sasol het die wedstryd met 50–13 gewen.

Witbank het die eerste helfde met mening bestorm en hul losskakel, Michael Chabant, het met ’n strafskop die eerste punte op die telbord geplaas.

Hul binnesenter, Myni Smith, het hierna ’n onverdoelde drie in die hoekie gaan druk, wat die telling na 8-0 in die besoekers se guns geplaas het.


Tian Habig was nog op sy knieë toe die bal in sy hande in geskop is. Hier leun hy net oor vir’n drie.

En dit was híér waar die Sasol-masjien se ratte in plek geval het.

Die span se eerste drie is vermag met ’n paar manne wat in ’n rolbeweging vir Wynand Venter, toekantflank, met die bal oor die doellyn gestuur het. Dié drie is nie verdoel nie.

Die tweede drie het kort hierna gevolg toe Sasol se ratse skrumskakel, Dalton Smit, die bal na kaptein Anwar Fillis (buitesenter) aangestuur het vanwaar dit in losskakel, Dirk Coetzer se hande beland het vir ’n kraglopie na die doellyn.

Die drie is verdoel en die bordjies is verhang sodat Sasol 12–8 voorgeloop het. Theuns Kruger, binnesenter, het die aanloopwerk vir die volgende drie gedoen, maar is kort voor die pale platgetrek.


Witbank spelers takel vir Ruan Groenewald, haker, in ’n klipharde wedstryd Saterdag op Secunda se tuisveld.

Hy die bal gou uitgestuur na Fillis wat dit vir Martin Sithole, oopkantflank, aangegee het. Sithole was toegepak van Witbankers toe hy onder die pale die drie gedruk het.

Die rustydtelling was 19–8 in Sasol se guns. Sasol was dadelik op die aanval in die tweede helfde van die wedstryd.

Toe Devan van Eden, regtervleuel se hardloop-drie nie toegestaan is nie, het Tiaan Habig, loskopstut daarvoor opgemaak met wat net as ’n frats beskryf kan word.

‘n Witbank speler het die bal van agter hul doellyn direk in Habig, wat nog op sy knieë was, se hande geskop. Habig het dadelik oorgeleun en op die bal geval.


Theuns Kruger systap die Witbankers.

Die heelagter Francois Myburg het die drie verdoel om die puntetelling na 26–8 op te skuif. Binne twee minute het nóg ’n drie gevolg toe die bal vinnig hande verwissel het en by Kruger beland het.

Hy het die drie onder die pale gaan plant wat Myburg maklik verdoel het. Fillis het vyf minute later die bal uit die lug gevang en regoor die baan genael om vir ’n drie oor te duik wat nóg sewe punte verseker het.

Warren Moolman het hierna vir die hoekie oopgelê met ’n Witbanker wat wat aan sy trui vasklou. Die drie is nie verdoel nie.

Witbank het toe eers weer ’n opening gekry om punte aan te teken. Hul buitesenter, Vince Roos, het ’n onverdoelde drie gedruk wat die puntebord na 45–13 verander het.


LEES OOK: Tiener van Bronkhorstspruit presteer by boerperd kampioenskap


Dwayne Lake, Sasol se regterslot, het vir die laaste drie gesorg toe hy kort voor die doellyn grond toe getrek is, maar wel steeds met sy arm kon oorstrek om die bal op die lyn te druk.

Die agsteman PJ van Zyl en kaptein Anwar Fillis is as die spelers van die wedstryd aangewys. Sasol Grip & Rip se tweede span het met 36–24 ook hul wedstryd teen Witbank gewen.

Die klub speel nou op 29 Julie in die Mpumalanga Premiersliga se halfeindstryd in ’n tuiswedstryd teen Witrivier. Toeskouers en ondernemings wat losies langs die veld wil bespreek, kan Zelmi Roarty skakel by 071 388 0481.

Sasol is ook ’n gunsteling in die gesogde Gold Cup vir klubrugby wat uiteindelik weer vanjaar sedert 2019 plaasvind. Dié toernooi wat in September plaasvind, word op ’n uitklopbasis gespeel.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button