Local news

Klein Lydia van Secunda sterk goed aan na beenmurginplanting

Gesin is dankbaar vir nog ’n kans op baba Lydia se lewe.

SECUNDA – Klein Lydia van Deventer, die veearts dr Louis Bosch se kleinkind, het uiteindelik nuwe beenmurg gekry.

Dié kleinding, wat in Maart een geword het, is toe sy net vier maande oud was, met leukemie (bloedkanker) gediagnoseer.

Sy het in November verlede jaar ’n beenmurgskenker gehad, maar dié het onttrek. Lydia se ouers, Theo en Estelle van Deventer moes weer van voor af begin hoop en bid vir ’n skenker.

Hul gebede is in Januarie beantwoord toe hulle die goeie nuus gekry het dat daar ’n skenker is en dat Lydia in Februarie die prosedure sou kon ondergaan.

Dit was egter ook ’n moeilike tydperk vir die gesin en die proses om nuwe beenmurg te kry, gaan met baie en groot risiko’s gepaard.


LEES OOK: GMM goes back to court soon to face water contamination charges


Haar ma, Estelle, het gesê hulle is nie spyt dat hulle die kans gewaag het nie.

Sy en Lydia moes reeds ’n week voor die operasie in streng isolasie gaan sodat Lydia kon voorberei vir die prosedure. Na die prosedure moes mamma en baba ook vir ongeveer ’n maand in die hospitaal bly en isoleer.

“Ek was goed voorbereid om so lank daar te bly en dit was vir my beter as wat ek gedink het dit sou wees,” het Estelle vertel.

Lydia het baie siek geword van die chemo-behandeling wat sy voor die prosedure moes ontvang en ook van die proses van die beenmurg wat begin groei het in haar liggaam. Vandag lyk sy stukke beter en soos ’n gelukkig en gesonde eenjarige.

“Sy is bietjie agter met haar mylpale en begin nou eers kruip, maar sy is besig om vinnig op te vang.”


LEES OOK: Secunda Flying Squad confiscates dagga between Morgenzon and Standerton


Estelle en Lydia het eers in die begin van Mei na Secunda teruggekeer. Hulle het vir ’n maand nadat sy ontslaan is by haar ouers in Parys gaan woon omdat dit stiller is daar en sy nie die risiko wou loop dat haar twee seuntjies, Louis (4) en Christof (6) Lydia aansteek as hulle van die kleuterskool kom nie.

Lydia moet nou elke 10 dae haar dokter gaan sien vir ’n opvolg ondersoek. Sedert die prosedure sukkel sy om te eet en sy weet nie meer hoe om te suig nie.

Estelle moet haar deesdae met ’n inspuiting voer en sy het baie gewig verloor, maar dit gaan nou reeds beter.

“Dit is genade dat Lydia leef en ek is dankbaar dat sy die behandeling kon kry,” het Estelle gesê.

“Die behandeling het my kind se lewe gered. Dit is nou die eerste keer wat dit net vir my voel of ek ’n normale baba het.”

Sy het almal wat saam met die gesin gebid het en hulle ondersteun het bedank, asook die dokters van die hospitaal waar Lydia was en gesê hulle het soos familie geword.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

Back to top button