CrimeLocal news

Vermeende kabeldiewe loop hul rieme op Eloff styf

Die Sundra Polisie in samewerking met lede van die Eloff en Delmas Valke Buurtwag het na positiewe inligting van informante op ’n blyplek in Mimosa toegeslaan.

Die aktiwiteite van vermeende kabeldiewe op Eloff was vir bykans ’n week deur die plaaslike buurtwag dopgehou voordat hulle uiteindelik tydens ’n gesamentlike operasie deur die SAPD en AfriForum se Eloff- en Delmas Valke Buurtwag vasgetrek is.

Die polisie op Sundra het twee verdagte kabeldiewe op 2 April omstreeks 19:00 in die Mimosa informele nedersetting in hegtenis geneem waar hulle in besit van vermoedelik gesteelde elektriese kabel betrap is.

Die inhegtenisname volg nadat lede van die Eloff Buurtwag reeds vir meer as ’n week op die spoor van hierdie verdagtes was.

“Hulle het ons bly ontglip en ons kon hulle net nie vastrek nie,” het Heila Coetzee van die Eloff Buurtwag gesê.


Van die slote by die spoorlyn op Eloff van waaruit elektriese kabel gebuit is.

“Sommige van die slote gegrawe in die omgewing van die spoorlyn op Eloff is sowat twee meter diep en drie meter lank.”

Die Eloff Buurtwag kon ook daarin slaag om op gereedskap beslag te lê wat na alle waarskynlikheid deur die kabeldiewe gebruik was om kabels oop te grawe en te knip.

Die Sundra Polisie in samewerking met lede van die Eloff en Delmas Valke Buurtwag het na positiewe inligting van informante op ’n blyplek in Mimosa toegeslaan.

Teen druktyd het die bevelvoerder van die Sundra Poilsie, Kaptein Linky Olckers, aan Streeknuus bevestig dat twee Suid-Afrikaanse burgers op klagtes van die peuter met noodsaaklike infrastruktuur sowel as besit van vermoedelik gesteelde goedere aangekla sou word.


Die gereedskap waarop daar beslag gelê is.

“Die lang en digte gras in en om Eloff maak dit vir kriminele maklik om hul bedrywighede ongestoord voort te sit.”

Volgens Olckers het sy reeds met die plaaslike brandweer in aanraking gekom om van die lang gras met beheerde brande ontslae te raak.

“Die brandweerhoof, Frans Bolton, het ons egter meegedeel dit is nog te vroeg in die seisoen is, maar dat die brandweer wel aandag aan die probleem sou skenk.”

’n Datum vir die twee vermeende kabeldiewe se verskyning in die hof was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.


LEES OOK: Man allegedly rapes young woman he befriended on Facebook




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button